Goue Bekerhouer sukkel in Bulle se Carltonliga

Suid-Afrika se beste oop klub en die houer van die Goue Beker, Rustenburg Impala, sukkel tot dusver vanjaar in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga.

Sy nederlaag van 15-20 Saterdag teen die Tukkies, nadat hy rustyd met 8-6 voor was, beteken dat hy nog net twee uit vier wedstryde kon wen en vyfde uit ses spanne op die punteleer is.

Die verdedigende Carltonkampioen, Centurion, is boaan die punteleer nadat hy Quins-Bobbies-rugby (QBR) met 32-27 uitgestof het. Laasgenoemde was rustyd met 20-17 voor.

In Saterdag se derde wedstryd in die liga het die Naka Bulle naelskraap met 25-24 teen Dragons gewen, nadat hulle rustyd 10-10 gelykop was.

Die klein wenspelings en die rustydtellings weerspieël die strawwe mededinging in die liga.

Volgens Johanna de Vos se rekords is Steven Moir van Centurion (50) en Morné Hugo van QBR (42) die voorste puntemakers in die reeks, en het Jan-Hendrik Bosman van QBR (vyf) en Dewald Naudé van die Tukkies (vier) die meeste drieë gedruk.

♦ Charles Pelser, Centurion se klubbestuurder, sê vanweë die goeie reën was die speeltoestand vir die wedstryd teen QBR glad nie goed nie, en het dit aanvanklik maar sukkel-sukkel gegaan.

Uitstekende drie

“Centurion kon glad nie in die eerste helfte die momentum kry waarop hy gehoop het nie. Toe hy die voorsprong op die telbord kry, het hy uitstekend gevaar.

“In die tweede helfte het Centurion die regte soort rugby vir die heersende weerstoestand begin speel. Hy het die bal naby die voorspelers gehou, die agttal het die harde werk gedoen, en die span kon die punte op die telbord plaas.”

Pelser sê JP du Plessis het ʼn uitstekende drie in die tweede helfte gedruk, en die voorhoede in geheel verdien lof vir sy vertoning in ʼn kragmeting waar elke man sy deel gedoen het.

Nico van den Heever, Christiaan Burger, Edmar Marais en Du Plessis het Centurion se drieë gedruk; Steven Moir het met twee elk doelskoppe en strafdoele, en Stanley Twiname met ʼn doelskop geslaag.

♦ Ben Eybers, die voorsitter van QBR, berig QBR Swart se voorste driedrukker, Jan-Hendrik Bosman, het twee keer die doellyn oorgesteek om sy span gerieflik met 20-7 te laat voorloop.

“Centurion het egter gewys hoekom hy die Carltonkampioen is en aangehou om terug te veg. Die telling was gelykop, voordat ʼn briljante stuk individuele spel in die lug, die wendrie aan Centurion besorg het.”

Imille Keyser en Willie Odendaal het QBR se ander drieë gedruk, en Lourens Boddington het met twee doelskoppe en ʼn strafdoel geslaag.

Eybers sê QBR Red het in die uiters nat en koue toestande in die tweede plek op die punteleer ingeskuif.

“Sy kaptein, Riaan Wilbers, moes die tweede week agtereenvolgens steke aan sy kop kry voordat hy weer sy span kon gaan lei.”

QBR en Centurion het in ʼn naelbytstryd in die meedoënlose afdeling vir derdespanne met 21-21 gelykop gespeel, nadat die spanne vier keer in die wedstyd gelykop was.

“Die ou QBR-strydros Piet de Jager het vier keer pale toe aangelê om elke keer die agterstand uit te wis, en hy gaan nog baie vir die span beteken.”

QBR speel oor twee naweke (28 Mei) in die SA Rugbyunie se Sondagreeks teen Impala op Rustenburg en die wedstryd sal regstreeks op Supersport Select uitgesaai word.

Eybers sê die pad na die Goue Beker het die naweek ʼn bietjie steiler geraak, maar QBR kan nog daar uitkom.

Etienne Storm maak die Naka Bulle se oond skoon teen Dragons. (Foto: Johanna de Vos)

♦ Buks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, laat weet erge reën het ʼn stokkie gesteek voor Naka en die Dragons se geleentheid om mekaar op Loftus A, in ʼn voorwedstryd vir die kragmeting tussen die Bulls en die Highlanders, die stryd aan te sê.

“Miskien ook maar goed, want die wind, reën en koue het gesorg dat die wedstryd nie goed op dreef kon kom nie.

“Die manne van Naka het goed geskrum, maar die nat bal het goeie hantering en verspreiding agterlangs gekortwiek.

Marquit September, Lawrence Cleminson en Gerhard du Preez het Naka se drieë gedruk. Die losskakel, Dillon du Buisson, en die heelagter, Gaybrin Smith, het elkeen met ʼn doelskop en ʼn strafdoel geslaag.

Naka speel Saterdag 20 Mei tuis teen Centurion, en Burger sê die span sal alles wil uithaal om sy plek op die punteleer te verbeter.

Naka se tweedespan het met 33-15 en die dedespan met 48-8 teen die Dragons gewen. Die o.20-span het Tuine met 41-17 geklop.

Ander uitslae –

Tweedespanne

Impala 32, Fezelas (UP) 20;

Derdespanne

Pumas (UP) 31, Impala 6.

O.21-spanne

Centurion 38, QBR 14; Tuks-jongspan 48, Impala 0.

O.20-spanne

Dragons 45, TUT 0; Centurion 25, QBR 18; Tukkies 58, Impala 0.

Opgesomde punteleer –

Carlton-A-liga

Eerste spanne

Centurion 15, Tukkies 14, QBR 11, Naka 10, Impala 10, Dragons 1.

Tweede spanne

Impala 20, QBR 17, Tukkies 14, Naka 10, Centurion 3, Dragons 2.

Derde spanne

Tukkies 19, Naka 14, Centurion 12, Dragons 8, QBR 4, Impala 1.

Onder 21-spanne

Tukkies 15, Dragons 14, Naka 10, Centurion 5, Impala 1, QBR 0.

Onder 20-spanne

Naka 19, Tukkies 16, Centurion 14, Dragons 10, QBR 10, Tuine 8, Impala 2, TUT 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.