Goue Bekerreeks bereik hoogspanning

Die SA Rugbyunie se internasionale oopklubreeks om die Goue Beker bereik hoogspanning wanneer die halfeindronde Saterdag in Pretoria en Kaapstad uitgespook word.

Vir die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala, is dit die vyfde halfeindstryd in vyf jaar, en die eerste keer in drie jaar dat hy dit nie op sy tuisveld uitspook nie.

Hy speel op Philip Herbsteinpark in Kaapstad teen Valsbaai, sy teenstander in verlede jaar se eindstryd.

Die Rustenburgers het destyds gerieflik met 48-24 gewen, maar dit ly geen twyfel nie dat die Baai op sy tuiswerf ʼn perd van ʼn ander kleur sal wees.

Valsbaai kan dalk net-net die gunsteling wees om na die eindstryd deur te dring, maar dit sal gek wees om Impala summier buite rekening te wil laat.

In Pretoria speel Quins-Bobbies-rugby (QBR) van die Blou Bulle op die Harlequin-veld in Groenkloof teen die KwaZulu-Natalse kampioen, College Rovers.

QBR het deurentyd in die groepfase getoon dat sy aanspraak op die beker moeilik gestuit sal word, en is op sy tuisveld die onbetwiste gunsteling.

Rovers moes kwaai spook om Tygerberg in die kwarteindronde uit te skakel, en sal sy spelpeil Saterdag heelwat moet lig as hy tot die eindstryd wil deurdring.

Die Durbaniete het hulle egter ná verlede jaar se teleurstellende toernooi (vir hulle) voorgeneem om sake vanjaar reg te stel, en die tuisspan sal daarmee rekening moet hou.

Afskoptye –

15:00 Valsbaai teen Impala, Philip Herbsteinpark, Constantia, Kaapstad.

16:00 QBR teen Rovers, Harlequin-klub, Groenkloof, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.