Goue Leeus gooi lakse klubs uit liga

GLRUDie Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) het verskeie klubs wat verlede seisoen laks in die nakoming van bepalings in die bond se ligas was uit die  Senior Grootuitdaagreeks weggelaat.

Die bepalings vir 2016 is Vrydag in Johannesburg uitgereik.

Klubs soos Jabulani, Eldoronians en Soweto is nie weer in die liga opgeneem nie. Kagiso en Alexandra het verlede jaar reeds voor die einde van die liga onttrek.

Die wan-nakoming van bepalings het verlede jaar tot groot frustrasie by klubs gelei omdat groot koste en tyd in die proses deur die klubs verkwis is wat wel vir die bepalings opgedaag het. Laasgenoemde het selfs berig dat hul diepte op die ou end daardeur geknou is omdat spelers in die laer spanne by gebrek aan wedstryde soms die spel heeltemal laat vaar het.

Die Universiteit van Johannesburg se Soweto-kampus is die enigste nuweling in die reeks. UJ Soweto het tevore reeds selfstandig aan die toernooi van Universiteitsport Suid-Afrika (Ussa) deelgeneem, maar was verlede jaar laaste in sy afdeling.

♦ Die GLRU-ligas begin op 2 April en die kollig die eerste dag sal die skerpste val op die wedstryd tussen Pirates, verlede jaar se sterkste oop klub, en Roodepoort, `n gerekende uitdager.

Johannesburg Polisie is tot die Pirates-grootuitdaagreeks toegelaat, wat vanjaar uit 11 spanne saamgestel is. Die res is weer die Universiteit van Johannesburg, NWU Pukke, Pirates, Roodepoort, Wanderers, Raiders, die Universiteit van die Witwatersrand, Alberton en Unie.

Ná die eerste opstellende ronde speel die topses klubs in `n tweede ronde teen mekaar, en die onderste vyf klubs eweneens op hul beurt saam met die voorloper in die Senior Uitdaagreeks.

Die sewe klubs in die Senior Uitdaagreeks (Diggers, GermistonSimmer, Khosa, Midrand Stingers, Harlequins, Wes-Wits en UJ Soweto) speel oor `n dubbele ronde.

Die halfeindstryde is vir 6 Augustus en die eindstryde vir 13 Augustus bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.