Goue Leeus kies Blitsbok en groter ervaring

Kwagga Smith – in die Curriebekerspan ná sy skorsing. (Foto: GB Jordaan)

Groter ervaring en die insluiting van ʼn Blitsbok kenmerk die Goue Leeus se span vir Vrydag se Curriebekerwedstryd teen Griekwas in Kimberley.

Die beste nuus vir die Leeus is seker die terugkeer van die Blitsbok Kwagga Smith wat sy skorsing van vier weke vir ʼn gevaarlike duikslag uitgedien het. Sy flankmaat Cyle Brink skuif na die ander kant van die skrum om vir hom plek in te ruim, en Fabian Booysen beland op die bank.

Van die jongelinge wat tot dusver vir die senior span gespeel het speel Vrydag vir die bond se o.21-span teen die Blou Bulle.

Met die bankstut Corné Fourie wat ʼn polsgewrig gebreek het, kry die opkomende Springbok Jacobie Adriaanse sy eerste kans in die opdrafspan in die plek van die Springbok Ruan Dreyer wat hom by die Bokgroep in Australië aangesluit het.

Rhyno Herbst speel slot in die plek van Andries Ferreira, wat ‘n blaaskans kry met die gesin se tweede baba wat op pad is.

Anthony Volmink en Sylvian Mahuza vervang die vleuels Aphiwe Dyanti en Madosh Tambwe. Jaco van der Walt speel heelagter in Mahuza se plek.

Harold Vorster is terug op binnesenter en Rohan Janse van Rensburg skuif buitentoe in Manuel Rass se plek.

Die span –
15. Jaco van der Walt, 14. Sylvian Mahuza, 13. Rohan Janse van Rensburg, 12. Harold Vorster, 11. Anthony Volmink, 10. Ashlon Davids, 9. Marco Jansen van Vuren, 8. Ryan Kankowski, 7. Cyle Brink, 6. Kwagga Smith, 5. Marvin Orie, 4. Rhyno Herbst, 3. Jacobie Adriaanse, 2. Robbie Coetzee, 1. Jacques van Rooyen (kaptein). Bank: 16. Pieter Jansen, 17. Sti Sithole, 18. Johannes Jonker, 19. Robert Kruger, 20. Fabian Booysen, 21. Branco du Preez, 22. Aphiwe Dyantyi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.