Goue Leeus skud WP ondanks jeug, haelstorm

Die Goue Leeus se Kwagga Smith word deur die WP vasgevat. Harold Vorster sit hand by. (Foto: GB Jordaan)

Ondanks hul jeugdigheid, ʼn haelstorm en weerstoestande wat die besoekers tot voordeel kon strek, was die Goue Leeus Sondag op Ellispark een te veel vir die Westelike Provinsie.

Gevolglik is die Curriebekerreeks nog wawyd oop, en van die sewe spanne het slegs Griekwas (wat sy verpligtinge afgehandel het) geen kans meer om die halfeindronde te haal nie.

Die tuisspan het met 29-20 gewen, nadat die Streeptruie rustyd met 17-10 voor was.

Die Leeus was agter tot Rhyno Herbst se drie in die 71ste minuut, wat op 17 fases – gekenmerk deur goeie geduld en puik besluitneming – gevolg het.

Rohan Janse van Rensburg se drie in die 77ste minuut het die kroon gespan.

Net voor rustyd het hael en die gevaar van donderweer die spelers sowat vyf minute lank van die veld gejaag. Dit het sterk in die eerste helfte gereën, en hoewel dit toe minder gereën het, was die veld in die tweede helfte baie nat.

Die WP-losskakel, Robert du Preez, het 15 van sy span se punte met ʼn drie en twee elk doelskoppe en strafdoele behaal.

Die WP staan bont om die Leeus se Hacjivah Dayimani in toom te hou. (Foto: GB Jordaan)

Die Leeus se slot Marvin Orie was goed in die los en die lynstane en is as die speler van die wedstryd aangewys. Kwagga Smith (agsteman) was puik, en Marco Janse van Vuren (skrumskakel) het sy spel goed afgewissel, soms self gebreek, die bal verder gevoer, en takties die bal voor sy sterker agttal gehou.

Dit is duidelik dat die Leeus benewens hul Bokke en spelers in Japan heelwat diepte het.

Hulle speel Saterdag tuis teen die Vrystaat, en as hulle met ʼn bonuspunt wen, kan hulle nog die halfeind haal.

Die WP speel teen die Sharks in Durban.

Die puntemakers –

Goue Leeus 29 (10) – Drieë: Aphiwe Dyanti, Rohan Janse van Rensburg, Sylvian Mahuza, Rhyno Herbst.
Doelskoppe: Ashlon Davids, Jaco van der Walt (2). Strafdoel: Jaco van der Walt.

WP 20 (17) – Driee: Nizaam Carr, Robert du Preez. Doelskoppe: Robert du Preez (2). Strafdoele: Robert du Preez (2).

Opgesomde punteleer –

Sharks 47, WP 32, Cheetahs 31, Goue Leeus 30, Blou Bulle 27, Pumas 26, Griekwas 26.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die Cheetahs se volgende Pro14 wedstryd is eers op 28 Oktober.Wonder of hul die span teen Leeus gaan inspan om die Curriebeker te verdedig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.