Goue Leeus sonder drie van hul mees ervare spelers na Durban

Die Goue Leeus gaan Vrydagaand (19:00) sonder hul mees ervare agterspeler en twee van hul mees ervare voorspelers teen die Sharks in Durban speel.

Die Curriebekerwedstryd is veral vir die Leeus van die uiterste belang in die pylvak om die halfeindstryde te haal. Die Sharks het reeds vir ‘n tuishalfeind gekwalifiseer.

Die SA A-span se slot Andries Ferreira (meer as 70 eersterangse wedstryde), agsteman Ryan Kankowski (240 eersterangse wedstryde waaronder 20 toetse), en die vleuel Anthony Volmink (ook meer as 70 eersterangse wedstryde) is nie in die span wat tien dae gelede met die Blou Bulle afgereken het nie.

Ferreira is vir een wedstryd geskors, Kankowski is deur die Lions se maatskappy vrygestel om in Japan te gaan speel en daar is onsekerheid oor Volmink se fiksheid.

Hy is wel op die bank, met Stokkies Hanekom wat as alternatief aangedui word in die spanaankondiging.

Die jong Dalan Smith is nie oorweeg nie. Smith moes vanjaar, kort nadat hy ná ‘n skoueroperasie teruggekeer het veld toe, weer met die skouer aflê. Voorverlede week met die opwarming voor die eerste wedstryd ná sy terugkeer het hy sy knie beseer.

Ferreira word deur Rhyno Herbst vervang, Fabian Booysen is in die plek van Kankowski gekies en die opwindende Aphiwe Dyantyi speel vleuel in Volmink se plek.

Die span –
15 Jaco van der Walt, 14 Sylvian Mahuza, 13 Harold Vorster, 12 Rohan Janse van Rensburg, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Ashlon Davids, 9 Marco Jansen van Vuren, 8 Fabian Booysen, 7 Cyle Brink, 6 Kwagga Smith, 5 Marvin Orie, 4 Rhyno Herbst, 3 Jacobie Adriaanse, 2 Robbie Coetzee, 1 Jacques van Rooyen (kaptein). Bank: 16 Sti Sithole, 17 Pieter Jansen, 18 Johannes Jonker, 19 Robert Kruger, 20 Len Massyn, 21 Bradley Thain, 22 Anthony Volmink/Stokkies Hanekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.