Grens, OP kan pas aangee vir ander bonde

ec-prov-gov-320x180Grens en die Oostelike Provinsie kan die pas vir die ander provinsiale bonde aangee wat die beoogde herskikking van rugby binne geo-politieke grense betref.

Dié twee bonde is die verste in dié rigting gevorder met `n gesamentlike Oos-Kaapse Super12-liga wat die afgelope klompie jaar suksesvol bedryf is, en die aanduiding is dat die SA Rugbyunie (Saru) die herskikking dáár as `n loodsingsprojek beskou wat as model vir die res van die land kan dien.

Na wat Pale Toe! kon vasstel, het Saru en die Oos-Kaapse provinsiale regering eenstemmigheid oor die herskikking bereik en word daar nou op die twee betrokke bonde se instemming gewag voor `n aankondiging in dié opsig gedoen word.

Ses spanne van Grens en ses van die OP het dusver aan die reeks deelgeneem, maar die spanne wat aan die reekse om die Varsity- en Goue Beker deelgeneem het, is uitgesluit. In `n nuwe bedeling behoort minstens die oop klubs deel van die Oos-Kaapse reeks te wees.

Die reeks het sy wortels in een wat Saru in 2008 ingestel en gefinansier het, en wat klubs van die Suidwestelike Distrikte ingesluit het. Die Oos-Kaapse provinsiale regering borg dit sedert 2010, met die uitsluiting van die SWD-klubs.

Dis vanjaar grootliks deur die OP oorheers, en Gardens van Uitenhage, `n klub wat in 1932 deur `n kerk se diakens op die been gebring is, het die Super12 sowel as die OP se Grootuitdaagbeker gewen.

Die gedagte met die voorgenome nuwe bestel is dat die twee bonde se klubs in die eerste deel van die seisoen hul senior plaaslike ligas beslis – in Grens se geval die Superliga, en die Grootuitdaagreeks wat die OP betref – waarna die Super12 deur die topses spanne in elk van die ligas betwis word. Dit sal eweneens eersteklas voorbereiding beteken vir die twee bonde se kampioene, wat ná afloop van die Super12 teen die beste oop klubs in die res van die land asook in`n paar Afrikalande om die Goue Beker sal meeding.

Bogenoemde sal na alle waarskynlikheid slegs die senior klubs raak. Met 112 klubs in die OP en 55 in die Grens sal die klubseisoen noodwendig langer moet duur as wat die drievlakmodel toelaat.

Die moontlikheid bestaan eweneens dat die getal senior klubs in albei bonde sal moet verminder om die ligas in die beskikbare tydgleuf in te pas.

Na wat vasgestel kon word, word onder meer daaraan gedink om die twee senior ligas tot die Nelson Mandelabaai- (OP) en Buffalostad- (Grens) metropolitaanse sentra te beperk veral om reiskoste te besnoei. Dis in elk geval waar die kragkonsentrasie op klubvlak lê.

Daar word in Saru-kringe geglo dat só `n opset groter aanklank by TV, potensiële borge en die ondersteuners sal vind.

Dit sal ook in ooreenstemming wees met die regering se aandrang om sport binne geo-politieke grense te herskik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.