Griekwaliga: dubbeldoorsege vir Hartswater

hartswaterHartswater het die afgelope week `n dubbeldoorsege in die Griekwaligas behaal.

Die besproeiingsboere het Woensdag vir Christiana 52-12 (rustyd 33-0) in die Kimberley-streekliga verniel om vir `n tuishalfeindstryd in aanmerking te kom; en Saterdag 21-17 (rustyd  14-10) met Postmasburg in die bond se Superliga afgereken.

Ongeag die wenuitslag teen Postmasburg, reken Stewart Bennie, Hartswater se afrigter, dit was nie die span se beste wedstryd hierdie seisoen nie.

“Hartswater het gelukkig die paar geleenthede gebruik wat hy gekry het. Postmasburg het dodelik aangeval en goeie verdediging het ons gered.

“Ons is tevrede met die oorwinning. Ons mikpunt in ons eerste Superliga-deelname was twee seges en ons het op die ou end drie behaal.

“Dit plaas die span derde in sy groep en daarmee is ons baie tevrede. Daar kort `n bietjie afronding voor ons plaaslike liga se halfeindstryd komende Saterdag. Ons stel vir onsself `n hoë peil en weet ons kan beter op die veld vertoon.”

Bennie sê Jan-Hendrik van der Linden (flank) het sy konstante goeie vorm deur die seisoen gehandhaaf en waarskynlik die klub se beste drie van die seisoen gedruk, toe hy 70 m moes nael om af te rond.

“Johan van Niekerk se taktiese skopwerk was uitmuntend en hy het die wind goed gebruik. Ons vleuels,  Jannie van der Westhuizen en Pieter Goosen, en die heelagter, Aldro Haines, se verdediging het `n hele paar drieë gekeer. Frans Burger (flank) se impak by die afbreekpunte is goud werd en hy gee baie momentum as hy die bal dra.

Die loskopstut, Obakeng Pholoholo, het twee drieë gedruk en Van der Linden een. Van Niekerk was met al drie doelskoppe in die kol.

Betreffende Hartswater se sege van 52-12 oor Christiana sê Bennie die wenspan is goed as eenheid saamgesmee en het elke enkele aspek van die spel geheel en al oorheers.

“Christiana is jaarliks een van ons grootste teenstanders, dus is ons baie tevrede met die sege, veral ná twee beserings binne die eerste tien minute.

“Ons was van die afskop af in beheer van die kragmeting. Dit was een van daardie wedstryde wat die bal eenvoudig reg vir ons gespring het.”

Bennie sê die gemeenskap het die klub vanjaar sterk ondersteun en dis lekker om op so `n manier aan hulle terug te kon gee.

“Daar wag `n groot halfeindstryd tuis teen Kimberley se tweede span en ons wil baie graag op hierdie momentum voortbou. Ons is baie dankbaar vir die positiewe seisoen wat ons tot dusver ervaar het.”

Hy sê in die agterlyn het Gerhard Holtshauzen (buitesenter), Altus van Zyl (plaasvervanger-losskakel) en veral Gerhardt Bardehorst (heelagter) sake vir die besoekers moeilik gemaak.

“Ons voorspelers het as `n hegte eenheid gespeel, en dis moeilik om een uit te sonder.”

Van Niekerk, wat dié slag binnesenter gespeel het, het 13 punte met `n drie en vier doelskoppe aangeteken. Badenhorst en Holtshauzen het elk twee drieë gedruk. Die ander manne wat agter die doellyn gaan kuier het, was Chris Nieuwoudt (regtervleuel), Jan-Chris Els (agsteman) en Van Zyl. Stefan Oosthuizen (losskakel) het met twee doelskoppe geslaag.

Saterdag se bepalings –

Superliga

Kuruman teen Sishen (Kuruman); Kimberley teen De Aar (DFA-park, Kimberley); United teen Young Lions (United-veld, Upington), Young Tigers teen Nababeep (Calvinia); Upington-Dorp teen Springbok (Die Eiland, Upington).

Opgesomde punteleer –

Oostelike Afdeling

Sishen 19, Kimberley 15, Hartswater 14, Postmasburg 12, Kuruman 4, De Aar o.

(Hartswater en Postmasburg het hul bepalings afgehandel.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.