Griekwas-afrigter gereed vir enige uitdaging

Die Griekwas vier hul status as die wenners van die SuperSport Uitdaag-reeks. Foto: Facebook.

Noem vir Brent Janse van Rensburg maar Meneer SuperSport Uitdaagreeks. Dié jong afrigter het vir die tweede jaar agtereenvolgens met die silwerware in dié reeks weggestap: verlede jaar saam met die Pumas en vanjaar saam met die Griekwas toe hulle die einste Pumas 28-13 in Saldanha getroef het.

Die skuif van Nelspruit na Kimberley het duidelik glad verloop.

“Verandering het altyd sy eie unieke uitdagings, maar tot dusver het ek my tyd in Kimberley baie geniet. Ons het juis weer gister (Woensdag) vir die Curriebeker begin oefen,” vertel hy aan Maroela Media.

Dit is vir enige afrigter lekker om ’n trofee te wen, maar om die titel – al is dit saam met ’n ander span – suksesvol te verdedig, sal vir enige breier ’n Colgate-glimlag gee. Tog glo Janse van Rensburg dat ’n suksesvolle seisoen oor meer as net ’n trofee in die vertoonkas gaan.

“Ek is meer as tevrede met die vordering wat die spelers oor die afgelope sewe maande gemaak het; óp en ván die veld. Hoe die spelers as individue gegroei het, sowel as hul toewyding tydens die voorbereidingsproses, is wat vir my saak maak. Om die trofee te wen is die kersie op die koek, maar dit is nie die hele koek nie,” het hy bygevoeg.

Brent Janse van Rensburg is een van die talentvolste afrigters in Suid-Afrika. Foto: Facebook.

Hoewel dit vir hom moeilik is om ’n enkele wedstryd gedurende die SuperSport-veldtog uit te sonder, was die halfeindstryd teen die Westelike Provinsie en eindstryd teen sy voormalige unie vir hom baie spesiaal. Juis omdat die spelers kalm in die drukkoker-situasies gebly het.

Daar was al spelers vanuit die sogenaamde “kleiner” unies wat Springbokke geword het. Dink net aan Suidoos-Transvaal se Polla Fourie en die Griekwas se Gaffie du Toit.

“Keurders moet altyd bereid wees om spelers op alle vlakke te identifiseer – veral as jy op hoogte van jou talent-identifiseringsmodel wil bly,” sê hy.

Janse van Rensburg glo dat unies soos die Griekwas en Pumas baie by internasionale blootstelling kan baat. “As ons die geleentheid gegun word en oor die langtermyn kan begin beplan en besluite neem, sal die Griekwas nog ’n groter en meer positiewe bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby kan lewer.”

Deur die jare het baie spelers al hul reputasies in Kimberley gevestig. Onlangs is die unie se Kyle Steyn in Skotland se Sesnasiesgroep opgeneem, terwyl Sintu Manjezi in die Cheetahs se Pro14-planne is.

“As ons ’n plek kry in ’n internasionale kompetisie, veral met die huidige kontrakteringsmodel wat nou in Suid-Afrika geïmplementeer gaan word, kan ons SA rugby net sterker maak wat diepte en talentontwikkeling betref,” het hy gesê.

“Dit sal wonderlik wees om saam met die Griekwas ’n pad by ’n internasionale reeks te stap en sodoende meer stabiliteit vir die unie se toekoms te verseker. Dit word nou al lank bespreek en ek hoop van harte dat dit binnekort ’n realiteit vir die spelers sal word.”

Vir Janse van Rensburg gaan dit nie oor posbenamings of titels nie – solank hy kan afrig, is hy doodgelukkig.

En hy bring gereeld die beste uit sy spelers te voorskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.