Griekwas baas teen Pumas in Kimberley

SARU-Provinces-Griquas-20110202[1]

Griekwas het hul promosie-relegasiewedstryd teen die Steval Pumas in Kimberley naelskraaps met 21-19 gewen.

Hulle het hul spelpeil heelwat in die tweede helfte gelig en oor ’n belangrike hekkie gespring om steeds deel van die Curriebeker se Premierliga te bly. Vir die Pumas, wat veral die eerste helfte loshande gedomineer het, is dit ’n hartseer affêre nadat hulle laas week so gebiedend koning gekraai het in die eindstryd van die Eersteliga. Hulle sal hul wraak volgende week in Nelspruit in die tweede van dié kragmetings moet neem nadat hul onoorwonne rekord van 16 wedstryde aan skerwe lê.

Griekwas se gewone sondes het vroeg reeds kop uitgesteek en hulle het konsekwent sagte strafskoppe in die eerste helfte afgestaan. Hoewel hulle heelwat belowende balbesit en gebiedsvoordeel gehad het, het swak hantering en oorgretigheid hul pogings telkens skipbreuk laat ly.

Die Pumas het egter allermins ‘n foutlose eerste 40 minute gehad, maar hul dringendheid, selfvertroue en samespel het daartoe gelei dat hulle met rustyd darem 13-0 voorgeloop het. Die nul kan daaraan toegekryf word dat ’n pienk lyn Griekwas voortdurend voor die voordeellyn gestuit het en elkeen wat dit toevallig kon oorsteek, is buitendien spoedig in ’n pienk kombers verswelg en teruggedra.

Carl Bezuidenhout het in die eerste tien minute sy span danksy twee strafdoele met 6-0 laat voorloop. Die eerste drie van die wedstryd was die gevolg van ’n Griekwa-fout, maar is eintlik deur die reusedruk van die Pumas teweeg gebring. Die bal het agter die Poubloues se doellyn los gespat toe Marnus Hugo deur Stefan Watermeyer geduik is terwyl hy die bal wou uitgee. Watermeyer se sentermaat, Wilmaure Louw, het daarna bloot op die bal geduik en Bezuidenhout het die doelskop sekuur deur die pale gejaag: 13-0.

Griekwas het die tweede helfte met nuwe vasbeslotenheid en doeltreffendheid begin en het pal in die Nelspruiters se kwartgebied geboer. Nadat hulle telkens in gunstige posisies balbesit weens klein foutjies afgestaan het, het daar ’n skielike swaai in momentum plaasgevind.

Eers het Howard Mnisi een duikslag afgeskud en ’n manjifieke aangee vir Willie le Roux gegee, waarna die Boksensasie talle verdedigers ontwyk en uiteindelik die bal na Carel Greeff uitgegee het om in die hoekie af te rond. Gouws Prinsloo het die telling 13-7 met die doelskop gemaak. Byna direk daarna het Mnisi weer ’n bres teen die kantlyn geslaan, die bal na Greeff laat loop waarna hy vir Le Roux gevind het. Jean Stemmet het ’n aangee deur Le Roux op volle vaart tegemoet gegaan en sy hakskene aan die Pumas se verdedigers op pad doellyn toe gewys. Prinsloo het die manne van Kimberley vir die eerste keer met dié doelskop laat voorloop: 14-13.

Hierdie voorsprong het egter nie lank gehou nie want Griekwas se disspline het weer tekort begin skiet  en die immerbetroubare Bezuidenhout het nog twee moeilike strafskoppe onder druk oorgeskop.

Griekwas se pak het die Pumas in die doodsnikke met ’n dryfmaalbeweging oorweldig en hul vuurvreter-flank, Marnus Schoeman, het oorgeduik en die telling gelykop gemaak. Prinsloo het GWK-park hard laat dreun toe hy die wenpunte met sy suksesvolle doelskop aangeteken het.

Puntemakers

Pumas:

Drieë: Louw

Doelskoppe: Bezuidenhout

Strafdoele: Bezuidenhout (4)

Griekwas:

Drieë: Greeff, Stemmet, Schoeman

Doelskoppe: Prinsloo (3)

Geelkaart: Giant Mtyanda

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.