Griekwas bespreek plek in Curriebeker se uitsoekliga

currie-cup[1]Dit het Griekwas toe Saterdagmiddag op Outeniquapark in George presies 30 minute gekos om hul plek as die agtste span in die Curriebeker Premierliga te verseker.

Met hul uiteindelike wegholoorwinning van 57-12 het die Noord-Kapenaars gewys dat hulle waarskynlik gereed is vir die groot kanonne in die Premierliga en dat hulle selfs, soos die afgelope twee seisoene, hier en daar ’n verrassing kan lewer in vanjaar se Curriebekerreeks.

Toe Griekwas se regtervleuel, Ederies Arendse, oor die doellyn skuif vir sy span se vierde drie teen die SWD Arende, was die koeël reeds dwarsdeur die kerk en anderkant die konsistorie uit, want toe Francois Brummer die drie ’n minuut later verdoel, was die telling reeds 26-0 in die Poubloues se guns.

Om alles te kroon het Griekwas se woelig agtsteman, Carel Greeff, se drie nege minute later die rustydtelling op 31-0 te staan laat kom, wat beteken het dat die mense van Kimberley heel waarskynlik die boodskap gekry het dat hulle die vure maar solank kon aansteek. Die kans vir die arme SWD Arende om terug te kom in die wedstryd was, realisties gesproke, basies nul.

Griekwas het egter geen kanse gewaag nie en hul hoë tempo rugby voortgesit. Nóg vier drieë het gevolg en na 70 minute se klipharde spel het hulle die voet vir die eerste keer van die pedaal gehaal. Op daardie stadium was die telling reeds 57-0.

Die Noord-Kapenaars het toe effens konsentrasie verloor en die tuisspan toegelaat om binne tien minute twee keer oor die doellyn te glip.

* Soos algemeen verwag het die Luiperds toe ook amok gemaak in Potchefstroom teen die Grens Bulldogs en hul oorwinning van 103-15 het gewys dat dié span net so ryp is soos enige van die ander drie wat hulle volgende maand by die groot vyf in die Premierliga van die Curriebeker aansluit.

In die Luiperds se stryd teen die Grens Bulldogs het hulle 15 keer gaan druk teen die twee verdwaalde drieë van die besoekers. Verskeie rekords het met hierdie sege gespat, wat insluit die twee vierkunste van die Luiperds se twee vleuels, Luther Obi en Sylvian Mahuza.

Die manne van Noordwes se sterk vertoning in hierdie reeks sal sekerlik weer vrae laat ontstaan oor die openlike politiek wat in die Oos-Kaap gespeel word, waarmee hulle ook hul plek onder die top unies vir twee seisoene beding het.

Volgens die reëls wat Saru opgestel het om die OP Kings te bevoordeel sal dié span vir twee seisoene beskermde toegang hê tot die Premierliga in die Curriebeker. As die Luiperds volgende seisoen weer ’n kans wil hê om gepromoveer te word, moet hulle hoop dat albei die kwalifiseerders in die Premierliga, die Pumas en Griekwas, nie vanjaar onder die top ses in dié liga eindig nie. As dít sou gebeur en een van die “groot vyf” eindig saam met die OP Kings in die laaste twee plekke in die Premierliga vanjaar, sal daar volgende seisoen geen kwalifiseringstoernooi wees nie en ’n span soos die Luiperds sal moet hoop hul borge hou uit en staan by hulle tot in 2016, wanneer dinge weer kan verander.

* Die Griffons het uiteindelik derde geëindig in die kwalifiseringstoernooi, toe hulle die Valke Vrydagaand in Welkom met 27-20 geklop het. Die Noord-Vrystaters het vier drieë gedruk teen die Oos-Randers se twee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.