Griekwas-diamant skitter al hoe blinker

Clinton Swart - 19 punte. (Foto: Twitter)

Clinton Swart – weer 19 punte. (Foto: Twitter)

Die Griekwas se losskakel-diamant, Clinton Swart, het nes verlede week teen die Griffons, Vrydag 19 punte vir sy span teen die Valke aangeteken.

Die Poubloues het die kragmeting in die Barnardstadion op Kemptonpark 56-29 gewen nadat hulle rustyd gerieflik 28-10 voor was.

Die Pumas, die Vodacombekerkampioen, het sy tweede opeenvolgende nederlaag op die lyf geloop toe die SWD Arende hom op Saasveld 25-21 geklop het; en die Grens se Bulldogs het seker gemaak daar word met nuwe respek na hulle gekyk word toe hulle hul sege verlede week teen die Goue Leeus opgevolg het deur die Sharks-vyftiental 37-32 in Oos-Londen te klop.

Mark Pretorius - wendrie. (Foto: Lions)

Mark Pretorius – wendrie. (Foto: Lions)

♦ Die Valke, wat die Pumas verlede week in Nelspruit geklop het, weet na dese hoeveel blouboontjies vyf maak, en die Griekwas se ouer garde kan seker nie verkwalik word as Swart se kordaatstukke hulle na die dae van Piet Visagie laat hunker nie.

Swart het Saterdag `n drie gedruk en met sewe doelskoppe geslaag.

Die span uit die Diamantstad was binne agt minute 14-0 voor en het die voorsprong stelselmatig vergroot.

Rudy van Rooyen (skrumskakel) en Jason Fraser (agsteman) het elk twee keer vir die wenspan gedruk.

Etienne Taljaard (linkervleuel) het `n driekuns vir die Valke behaal.

t In die Saasveldstadion by George was die Pumas rustyd 21-8 voor en het dit gelyk of die span van Nelspruit die wedstryd in die sakkie het.

Mark Pretorius, `n gewese SA o.20- en Lions-haker, het twee van die Arende se drieë in `n magtige terugvegpoging in die tweede helfte gedruk.

Hy het die wendrie in die 62ste minuut gedruk en die tuisspan het soos besetenes aan die voorsprong geklou.

Justin van Staden het 11 punte vir die besoekers aangeteken deur met `n doelskop en drie strafdoele te slaag.

Puntemakers –

Valke 29 (10) – Drieë: Etienne Taljaard 3, Andries Truter, Thabo Mamojele: Doelskoppe: Christo Coetzee 2.

Griekwas 56 (28) – Drieë: AJ Coertzen, Clinton Swart, Jason Fraser 2, Rudi van Rooyen 2, Alshaun Bock, Ederies Arendse; Doelskoppe: Swart 7, Gouws Prinsloo.

SWD Arende 25 (8) – Drieë: Christo du Plessis, Mark Pretorius 2, Martin du Toit. Doelskop: Hansie Graaff. Strafdoel: Graaff.

Pumas 21 (21) – Drieë: Marcello Sampson, Marnus Schoeman. Doelskop: Justin van Staden. Strafdoele: Van Staden 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.