Griekwas-drie se Wêreldbeker-hoop leef voort

Die hoop van ʼn drietal gewese spelers van Griekwas om aanstaande jaar aan die toernooi in Japan om die Wêreldbeker (WB) deel te neem, is Saterdag in Rarotonga, Cook-eilande, lewend gehou.

Hul span, Hongkong, het die Cook-eilande met 26-3 geklop, al vlei die telling die Suidsee-eilanders, wat 33 plekke laer op die wêreldranglys staan.

Matt Rosslee (losskakel), Liam Slatem (skrumskakel) en Dylan Rogers (vaskopstut) het op hul dag die Poubloues in verskillende Suid-Afrikaanse reekse verteenwoordig.

Rosslee het met twee strafdoele geslaag, en Slatem het een van die wenspan se vier drieë gedruk.

Jamie Tsang, Hongkong se haker en kaptein, het sy nek kort voor die opdrafslag in ʼn fratsongeluk beseer, en hy is inderhaas deur Alexander Post vervang.

Leigh Jones, Hongkong se afrigter, het sy span se reis van 25 uur na Rarotonga as “aaklig” bestempel. Dit het ʼn vlug van 12 uur na Auckland, en ʼn oorlêery van tien uur (dié tyd is darem onder meer met ʼn oefening behels), voor die laaste vliegskof van drie uur Rarotonga toe afgelê is.

Die weeromstryd vind eerskomende Saterdag in Hongkong plaas, en die span wat gesamentlik die meeste punte behaal, neem in November in Frankryk aan ʼn heruitdun met die oog op die WB-toernooi deel.

♦ Die Filippyne het intussen ʼn gestroopte Afdeling I van die Asiatiese Rugbykampioenskap gewen, nadat die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en Sri Lanka hulle aan die veronderstelde vierhoekige reeks onttrek het.

Die VAE het blykbaar nie die geld gehad om ʼn span na Calamba, Filippyne, te stuur nie, en Sri Lanka – verlede jaar se naaswenner – het ʼn druk sewesprogram, en sy voorkeur aan dié weergawe van die spel, as rede aangevoer.

Sri Lanka (41ste) word nogal 15 plekke beter as die nuwe kampioen (56ste) op die wêreldranglys geag.

Die Vulkane het albei hul kragmetings teen Singapoer gewen, die eerste met 32-24, en die tweede met 38-12.

Maleisië, wat die toernooi verlede jaar gewen het, is intussen na ʼn hoër vlak bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.