Griekwas: gemshorings pryk teen Hartsie-muur

hartswaterKuruman se gemsbohorings pryk na dese lewensgroot teen Hartswater se trofeemuur.

Laasgenoemde het die kragmeting tussen die twee spanne in Griekwas se Superliga Woensdag op sy tuisveld 35-3 gewen.

Stewart Bennie, Hartswater se afrigter, sê die span se voor- en agterspelers het puik gekombineer om `n gesonde fondament vir die sege te lê.

“Alles waaraan ons deur die seisoen gewerk het, is verwesenlik.

“Akkurate taktiese skopwerk het die nodige momentum verleen.

“Die voorspelers was aggressief, het dodelik verdedig en was vinnig by die afbreekpunte,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Bennie sê Jan-Chris Els (agsteman) het die bal uitmuntend gedra; Altus van Zyl (binnesenter) se spel was deurentyd skerp; en Heinru van Aswegen (haker) het die oog in die algemene spel gevang.

Altus van Zyl, Els, Frans Burger (flank), Van Aswegen en Japie van Zyl (plaasvervanger) het die wenspan se drieë gedruk en Johan van Niekerk het al vyf verdoel.

Bennie sê hy is “ongelooflik tevrede” met sy span se vertoning.

“Dit is eintlik onwerklik hoe positief dit by ons klub daaraan toe is, en die spelers moet al die eer kry. Dit is asof hulle `n hegte vriendekring vorm.”

kuruman♦ Riaan van Straten, Kuruman se afrigter, sê met slegs drie dae se rus ná die harde wedstryd teen Postmasburg Saterdag het daar n paar stywe lywe uitgedraf.

“Ons het goeie rugby gespeel, by ons strukture gehou en ook kliphard verdedig. Die Postmasburg-wedstryd het egter die manne se kragte getap, want ons was platvoet teen Hartswater.

“Ons is geklop deur `n span wat baie meer klinies as ons was en groter dringendheid in hul spel gehad het.”

Kuruman se buitesenter, Emile Miller, het vroeg in die wedstryd met `n strafdoel geslaag.

Van Straten sê die nommer 6-flank, BJ Miller, het `n kanniedood-stryd gevoer en was baie woelig op die aanval sowel as die verdediging.

“Ondanks die nederlaag, was ons losskakel, Armand de Beer, baie goed op dreef met `n hele paar breekslae, goeie verspreiding en baie goeie taktiese skopwerk.

“Die heelagter, Stokkies Venter, en die vleuel Denton Chamberlain was op die verdediging in `n klas van hul eie en het Hartswater keer op keer sentimeters van die doelyn af gestuit.

“In weerwil van die drietal se goeie spel en harde werk het Hartswater soos ‘n goed geoliede masjien gespeel en vyf drieë teen ons ingeryg.”

Van Straten sê `n opboujaar is nooit maklik vir `n klub nie.

“Ons werk met `n groep van 25 spelers en sukkel met diepte. Ons spanbestuurder, Armand van Zyl, moes ook Woensdag tien minute lank as stut uithelp.

“Tog is die manne positief, die algemene spel is besig om te verbeter en ons is weer besig om as ‘n klub te groei.

“Niemand het gesê om weer `n klub op te bou, gaan maklik wees nie, maar dit gaan die moeite werd wees,” sê Van Straten.

Kuruman het aanstaande Vrydag weer een van sy gereelde braaibyeenkomste waar die hele gemeenskap saam kan gaan kuier, en middel Mei doen die span `n liefdadigheidsprojek om iets in die gemeenskap terug te ploeg.

♦ Kuruman was op sy dag een van die gerekende klubs in die destydse Griekwaland-Wes en het sulke Griekwa-legendes soos die lank dienende kaptein Jaap Grobbelaar en die klipsteenharde Johnny Markram opgelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.