Griekwas krap die Pumas se kaarte deurmekaar

Hennie Skorbinski rond ʼn briljante hardloopdrie uit die Pumas se eie 22-gebied af. (Foto: Erna Meintjes/Steval Pumas)

Griekwas het Saterdag in Nelspruit die Pumas se Curriebekerkaarte deurmekaar gekrap, en nuwe hoop vir die Blou Bulle laat opvlam.

Die tuisspan was in sagte reën rustyd gerieflik met 28-10 voor, maar kon nie die Diamantvelders se indrukwekkende terugvegpoging in die laaste 25 minute afslaan nie, en moes uiteindelik die knie met 35-38 voor hulle buig.

Die wenspan het in die tweede helfte 28 punte teenoor sewe aangeteken.

Die Pumas is nou onder die Bulle op die punteleer, en Saterdag se wedstryd op Loftus Versfeld tussen dié twee en kan die deurslag gee wie na die halfeindronde deurdring.

Die vraag ontstaan ook of die Leeus, tans laaste op die punteleer (hoewel met twee wedstryde oor), nie te veel gewaag met die jong, onervare span Sondag teen die Westelike Provinsie nie?

Hul laaste wedstryd aanstaande week is teen die Cheetahs op Ellispark, maar die Vrystaters kan dalk dan van hul Top14-spelers gebruik, wat nie ooreis is nie. Hulle het twee Saterdae loslootjies deurdat daar geen Pro14-wedstryde tot 28 Oktober is nie.

Terug op Nelspruit: Twee goeie langafstanddrieë (Griekwas se laaste twee) met goeie skakeling, keuse-uitoefening en afronding, het die Diamantvelders van 24-35 in die laaste 25 minute sien terugveg.

Die laaste, deur die senter Tertius Kruger – wat die speler van die wedstryd was – het in die 73ste minuut gekom. Die Pumas het toe te vlak ingeskop, en moes met onbetwiste 13-manskrums wal gooi tot die einde.

Die tuisspan het sy kanse gehad om punte aan te teken met ʼn hele paar lynstane van strafskoppe af, waarmee hulle druk op Griekwas se doellyn in die laaste 20 minute of so geplaas het, maar hanteerfoute en dissipline het hulle telkens punte gekos.

Die puntemakers –

Pumas 35 (28) – Drieë: Willie Engelbrecht (2), Hennie Skorbinski, Marko Janse van Rensburg, Frankie Herne. Doelskoppe: Kobus Marais (5).

Griekwas 38 (10) – Drieë: Tertius Kruger (2), Wendal Wehr, Kyle Steyn, Ederies Arendse. Doelskoppe: George Whitehead (4), André Swarts. Strafdoel: George Whitehead.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.