Griekwas laat Bulls amper op Loftus bloos

Foto: Twitter.

Nadat die Bulls ’n week of wat gelede vir die Sharks ’n amperse rugbyles tydens die Superfan-wedstryd op Loftus Versfeld geleer het, was die algemene konsensus dat hulle gisteraand ook met die Griekwas sou weghardloop.

Selfs die gewese Springbokkaptein, John Smit, het in die opbou tot die kragmeting die wedstryd as ’n Dawid teen Goliat-stryd bestempel.

Maar die Griekwas het toe so ewe in die openingsalvo vir die Bulls gewys presies waar Dawid die wortels op Loftus Versfeld gegrawe het. En hoewel die Pretorianers uiteindelik met 30-23 gewen het, het die Kimberley-manne so amper ’n reusegat in Fort Loftus geskop.

Te danke aan George Whitehead se skopvoet en James Verity-Amm se driedrukvermoë het die Griekwas ná 38 spelminute met 10-0 voorgeloop.

Die Bulls was in hierdie tydperk dalk net te gerus en te gretig om drieë te druk en Morné Steyn het gereeld eerder die kantlyn as die pale met sy strafskop-pogings gesoek. Tog het die tuisspan se onbeholpenheid op die aanval – gepaard met die Griekwas se vlytige verdediging – gereeld die Pretorianers se aanvalle in die kiem gesmoor.

Foto: Twitter.

Steyn het egter laat in die eerste helfte ’n strafskop tussendeur die pale gestuur en kort daarna het Ruan Nortjé vir die Bulls se eerste drie oorgeval.

Die besoekers het in die tweede helfte hul voorsprong na 18-10 gerek, maar ’n paar drieë – waaronder ’n strafdrie – en Steyn se skopvoet het die wedstryd uiteindelik buite hul bereik geplaas.

Maar die Poubloues het ongetwyfeld die Bulls se respek op Loftus Versfeld verdien. En om ’n geykte hoërskoolkaptein-sêding aan te haal: Hulle wou hierdie wedstryd ongetwyfeld die “graagste gehad” het.

Puntemakers:

Bulls: Drieë: Strafdrie, Ruan Nortjé en Arno Botha. Doelskoppe: Morné Steyn (2). Strafskoppe: Steyn (3).

Griekwas: Drieë: James Verity-Amm (2) en Anthony Volmink. Doelskop: George Whitehead. Strafskoppe: Whitehead (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans ·

Die hoeveelheid agterspelers in die Bulle se agterlyn het hul spel belemmer, Voeg daarby die hedendaagse opskietverdediging en jy het ‘n resep vir skoprugby.

MakersMark ·

Bulle se voorspelers was met tye baie goed. As hulle geskrum, gedryf en losmaal was die Griekwas op die agtervoet. Bul voorspelers moet net uit die agterlyn bly.

Johan ·

Wie kyk nog rugby behalwe die spelers en hulle familie want die kwota deel se ondersteuners kyk sokker

JBN ·

Met al die kwotaspelers in julle spanne kan julle maar net sowel begin sokker speel. Dalk kry julle meer ondersteuners. Stel nie meer belang in Anc kwotaspanne nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.