Griekwas maak ook in nuwe kompetisie sy stem dik

ʼn Curriebeker-titel was in 1970 laas vir Griekwaland-Wes beskore, maar in Suid-Afrika se naasbelangrikste plaaslike kompetisie is die Poubloues koning.

Die tweede hoofstuk van die SuperSport-reeks, wat as’t ware die Vodacombeker-reeks vervang het, nader Saterdag sy einde met die halfeindstryd wat gespeel word, en wéér is Griekwas die tweede keer in twee probeerslae daar.

Hulle het die beste rekord in die 18 jaar van die ou Vodacom-reeks opgestel deur in 11 halfeindstryde (die meeste) te speel, en het soos die Goue Leeus met vyf die meeste titels gewen. Griekwas was boonop drie keer die verloorspan in die eindstryd. Dus: vyf titels, drie tweede plekke en agt verdere halfeindwedstryde.

Die Goue Leeus, insluitende die Goue Leeus XV-tal soos dit nou genoem word, het in agt halfeindstryde gespeel. Hulle het benewens hul vyf titels in die Vodacom-reeks ook twee keer in die eindstryd verloor en een keer in die halfeindronde pak gekry.

Maar die sukses van Griekwas het nie by die Vodacombeker-reeks opgehou nie. Nadat daar in 2016 geen kompetisie vir die spanne was wat nie Superrugby speel nie, is die SuperSport-reeks geskep waaraan die spanne verlede jaar die eerste keer deelgeneem het.

Soos ʼn mens amper te wagte kon wees, het Griekwas met die intrapslag weer in die eindronde gespeel, waar hy met die Goue Leeus in die halfeindronde afgereken het (33-21). Griekwas het toe teen die Westelike Provinsie in die eindstryd met 19-28 vasgeval.

En nou is die Kimberliete weer in die halfeindstryd wanneer hulle Saterdag tuis teen die Vrystaat Cheetahs speel. Die Pumas en die Sharks XV-tal speel in Mbombela in die ander halfeindwedstryd teen mekaar.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.