Griekwas mik teen Boland na derde plek op puntelys

Griekwas-logoDit is sewe jaar sedert Griekwas en die Boland laas in die Premierliga van die Curriebekerreeks teen mekaar gespeel het, en Donderdagaand (19:00) op Griekwapark is vir albei ʼn spesiale wedstryd.

ʼn Oorwinning sal vir Griekwas na die derde plek op die puntelys opskuif, al is dit moontlik net tot na die naweek se wedstryde. Dit is nietemin vir hulle ʼn belangrike wedstryd om te wen omdat dit hulle in die wedloop om ʼn uitspeelplek broodnodige bonuspunte sal besorg.

Die Boland het verlede naweek met die Pumas afgereken en voortgebou op die goeie terugkeer na hierdie hoër vlak van rugby waar verál hulle toewyding en inklimspel tot dusver indruk gemaak het.

Hulle sal baie graag wil wys dit was nie net ʼn gelukskoot nie, maar dat hulle hul man in die geselskap kan staan.

Met die Boland wat nie net hulle kaptein Ruan Nell verloor het nie maar ʼn hele paar ander beseerdes en/of spelers met ligte skete het, het Griekwas die kans om selfs vyf punte in te oes.

Hulle agterlyn het dusver met hul direkte hardloopwerk en goeie hantering hul bereidwilligheid om wyd te speel daadwerklik ondersteun, en dit mag een te veel vir  die Boland te wees.

Dit sal hard wees, maar Griekwas behoort dié een te wen en dan lekker langnaweek te hou – mits hulle natuurlik nie oorgerus gaan wees teen ʼn moeilike teenstander nie.

Die afskop is 19:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.