Griekwas: Posman se Nelson ongeluk vir De Aar

postmasburgPostmasburg het Saterdag, soos die krieketmanne sou sê `n Nelson in die Griekwa-rugbyunie se Superliga behaal.

Met sy sege van 111-0 het hy egter die ongeluk na die Aar Titans verplaas wat aan die ontvangkant was. Krieket lui glo 111 is `n ongelukkige telling, klaarblyklik na aanleiding van die Engelse seeheld Lord Nelson, wat een oog, een arm en een been in seeslae verloor het.

Die sege het Postmasburg die derde plek op die punteleer van die Oostelike Afdeling – ná Sishen en Kimberley – besorg. Die wenspan was rustyd reeds 59-0 voor.

Die bond se kampioen, Sishen, het Hartswater 56-10 op Kathu geklop (rustyd 42-0); en in die ander wedstryd in dié afdeling het Kimberley op Kuruman 37-15 teen die tuisspan gewen (rustyd 27-10).

In die Westelike Afdeling het die onoorwonne voorloper, Upington-Dorp, groot geskrik voor hy 24-20 teen Nababeep op laasgenoemde se tuisveld gewen het (rustyd 3-10). Young Tigers van Calvinia het tuis 31-10 teen United van Upington gewen (rustyd 10-10); en Springbok het 41-30 met die besoekende Young Lions (Carnarvon) afgereken (rustyd 14-8).

Oor die wedstryd teen Sishen sê Stewart Bennie, Hartswater se afrigter, sy span het dit in die eerste helfte verloor.

“Ons het onsself te veel opgewerk vir die wedstryd en ons sodoende onder druk geplaas. Sishen is al jare lank `n baie goeie span en het gewis verdien om te wen.

“Die span het wel rustyd sy benadering reggekry, Sishen tot 14 punte in die tweede helfte beperk en self 10 aangeteken.

“Ons het goeie moed ná die wedstryd.  Soos ek al voorheen gesê het, duur dit `n paar jaar om volwasse genoeg te word om in die Superliga mee te ding.

hartswater“Dit is duidelik dat ons mededingend kan wees, aangesien ons vaste fassette baie goed was. Ek is baie tevrede met die span se poging. Ons het teen ‘n beter span verloor en nie omdat ons swak gespeel het nie.”

Bennie sê Hartswater se twee stutte, Hermanus (Klippies) Basson en Dries du Preez, het ongelooflik goed geskrum. Jan-Hendrik van der Linde was goed by die afbreekpunte, op die verdediging en die aanval. Die jong skrumskakel, Jean du Plessis, was op en wakker. Chris Nieuwoudt het dodelik verdedig.

Intussen het Hartswater ook 38-10 met Universals in die Kimberley-streekliga afgereken.

Bennie sê die span het in eerste helfte baie goed by sy beplande strukture gebly.

“Ons wou deur te wen `n tuishalfeindstryd verseker. Daar lê nou vir ons slegs taai wedstryde voor en ons wou momentum bou en sekere fasette in ons spel afrond vir die wedstryde wat kom.

“Chris Nieuwoudt het op die aanval `n groot impak gemaak met sy afstampe, breekslae en die wyse waarop hy die bal in spel gehou het.

Jan-Chris Els het in die lynstane geskitter, en Jan van der Linde op die verdediging. Aldro Haines was puik op die aanval sowel as die verdediging. Altus van Zyl het verdeding vir die teenstanders bemoeilik deur goeie balverspreiding en sy verbysterende systappe. Illidio Farria Freitas se verdediging was rotsvas.

Gerhardt Badenhorst het 13 punte met `n drie en vier doelskoppe behaal. Haines, Van Zyl, Nieuwoudt (twee) en Heinru van Aswegen het die ander drieë gedruk.

Opgesomde punteleer –

Superliga

Oostelike Afdeling

Sishen 19, Kimberley 15, Postmasburg 11, Hartswater 10, Kuruman 4, De Aar 0.

Westelike Afdeling

Upington-Dorp 15, Young Tigers 13, Springbok 11, United 10, Young Lions 6, Nababeep 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.