Griekwas, Pumas klim onder mekaar in

(Foto: @GriquasRugby/Twitter)

Daar was op die oog af nie baie op die spel in die voorbereidingswedstryd Saterdag in Kimberley tussen die rugbyspanne van Griekwas en Pumas nie.

Geen ligapunte op die spel nie, geen beker om voor te speel nie, geen relegasie of bevordering nie, maar lanklaas het twee spanne só onder mekaar ingeklim en nie die wang vir mekaar gedraai nie.

Sjoe, albei het hul dissipline in die kleedkamer gelos, want dit het geelkaarte (altesame vyf) en strafskoppe neergereën na geniepsigheid en oortredings deur albei spanne.

Griekwas, wat rustyd met 11 – 0 voorgeloop het, het met ʼn doodsnikstrafdoel in die 79ste minuut deur die losskakel Tinus de Beer met 23 – 22 voorgeloop, maar die Pumas het die tuisspan se harte in hul skoene laat krimp toe hulle met ʼn laaste woeste skrum ʼn strafskop afgedwing het.

Die Pumas se losskakel, Eddie Fouche, het die bal egter skeef getrek en die jubelende Griekwas-span het mekaar omhels.

Griekwas het ondanks drie geelkaarte­ – hulle het vir byna tien minute met net 13 spelers gespeel –­ net genoeg gedoen om die wa deur die drif te trek.

Die Pumas se dissipline was geensins beter nie en hulle het ook twee geelkaarte gekry.

Dalk was die passie so hoog omdat Griekwas eers verlede week (teen die Oostelike Provinsie se Olifante) die eerste keer in 13 wedstryde die verloordroogte afgeskud het. Dalk was die Pumas ook moeg daarvoor om die grotes se slaansakke te wees.

Dit was nie die beste getuigskrif vir Suid-Afrikaanse rugby nie, maar tog voel ʼn mens jammer vir twee van die aspoesters van SA rugby.

Daar is nog geen planne vir hul onmiddellike toekoms nie, hoewel bespiegel word dat na hulle omgesien sal word.

Maar hoe, waar en wanneer sal ʼn mens eers later in moeilike tye leer.

Punte:

Griekwas 23 (11): Drieë: Daniel Kasende. Strafdoele: Tinus de Beer (6).

Pumas 22 (0): Drieë: Etienne Taljaard, Simon Westraadt, strafdrie. Doelskop: Eddie Fouché. Strafdoel: Fouché.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton ·

Lekker om die passie te sien. Klomp manne wat nooit die glamour kry nie maar “”giving it all” Dit is tog rugby soos die ou dae ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.