Griekwas se terugvegpoging net-net nie goed genoeg nie

Rabs Maxwane duik oor nadat Marnitz Boshoff die bal pragtig in sy hande geskop het. (Foto: GB Jordaan)

Daar is gehardloop en gehardloop, en die keerwerk was miskien nie altyd van die beste nie, maar die wedstryd tussen die Blou Bulle en Griekwas het nietemin die (baie) klein Loftusskare Vrydagaand met 11 drieë vermaak.

Die Curriebekerwedstryd is met 44-42 deur die Bulle gewen nadat hulle die eerste helfte besit heeltemal oorheers en die besoekers in die tweede helfte die bordjies in dié opsig verhang het.

Die sukkelende Bulle het met die oorwinning (tydelik) na die derde plek op die punteleer opgeskuif.

Die besoekers het ses drieë gedruk en die Bulle vyf, en ʼn kenmerk van die wedstryd was dat die onderskeie skoppers met al 14 skoppe pale toe geslaag het.

♦  Voor rustyd het die Bulle meer as 70% van die besit gehad en was Griekwas onder geweldige druk om die een aanslag na die ander te keer. Self het die besoekers twee opportunistiese drieë en een uitstekende drie gedruk, maar met meer as 70 duikslae waarvan ‘n kwart onsuksesvol was, was die druk op hulle.

Die telling  met rustyd was 27-21 in die guns van die Bulle wat miskien ʼn groter voorsprong met die baie besit moes verseker het.

Christiaan Meyer, wat ʼn pragtige onderskepdrie vanuit sy eie kwartgebied gaan druk het, laat loop na die agterlyn (Foto GB Jordaan)

Die telling het egter binne drie minute ná die hervatting na 41-21 aangegroei nadat Manie Libbok, skitterend op die aanval, nog twee keer gaan druk het om by sy drie in die eerste helfte te voeg.

Toe John Mitchell egter hier by die 43 minute-merk al begin het om sy spelers van die bank af kans te gee, het die ritme en doelgerigtheid van die Bulle verdwyn en in die laaste kwart moes die tuisspan kwaai wal gooi.

Griekwas het in daardie tyd die telling tot 35-41 gevoer en die Bulle en hul ondersteuners was benoud.

Hanteerfoute het die Griekwas deurgaans in die steek gelaat, en omkeerbesit enkele minute voor die einde het die Blou Bulle sterk laat aanval. Plaasvervanger-losskakel Tony Jantjies se strafdoel het hulle met sekondes se speeltyd oor op 44-35 veilig gelaat.

ʼn Vinnige drie direk ná die afskop het Griekwas egter ʼn verdiende bonuspunt gegee.

Puntemakers –

Blou Bulle (27) 44: Drieë: Rabs Maxwane, Dayan Van der Westhuizen, Manie Libbok 3. Doelskoppe: Marnitz Boshoff  5. Strafdoele: Boshoff 2, Tony Jantjies.
Griekwas (21) 42: Drieë: Ederies Arendse, Christiaan Meyer, Wandile Putuma, AJ Coertzen 2. Doelskoppe: André Swarts 3. George Whitehead 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.