Griekwas skok die Leeus in Kimberley

Griekwas-logoDie Griekwas het Saterdag op Griekwapark in Kimberley herbevestig hoe moeilik dit is om hulle daar te klop toe hulle hulle die verdedigende Curriebekerkampioen, die Goue Leeus, se wensiklus verbreek en hulle 30-24 geklop het.

Dit was die Goue Leeus se eerste neerlaag na 13 wedstryde nadat hulle verlede seisoen die Goue Beker sonder ʼn enkele neerlaag gewen het. Hulle het laas in 2014 in die eindstryd teen die Westelike Provinsie verloor toe hulle nege uit 12 wedstryde in dié seisoen gewen het.

Daarmee het hulle gewys dat die Westelike Provinsie se twee uit twee neerlae en die Blou Bulle se gesukkel nie noodwendig vir die spanne die einde beteken nie. Daar is nog te veel moontlike skokke wat op almal wag.

Griekwas het Saterdag hul reputasie as ʼn harde span op ʼn harde veld gestand gedoen. Hulle het verdedig soos min, ingeklim en in elke faset hulle man gestaan en belangrik, die Leeus min beweegruimte gegun en hulle eie kanse gebruik.

Oomblikke voor rustyd was Griekwas 20-7 voor met die rustydtelling 20-12.

Die Leeus het vier drieë teen drie gedruk. Só goed was die verdediging dat die Leeus op hanteerfoute wat hulle uitgebuit het, vir twee van hulle drieë moes staatmaak.

Hulle eerste drie het net 30 sekondes na die afskop gekom nadat Griekwas se agterlyn ʼn hanteerfout gemaak het en Akker van der Merwe opgetel het om onder die pale te druk.

Die ander een het gekom toe Howard Mnisi sowat 65 meter gehardloop het om die wedloop doellyn net-net betyds te haal.

Volpunte vir Griekwas se gees en verdediging. Hulle het dit volgehou ondanks die verlies van hulle kaptein Steph Roberts kort voor rustyd,

Wat egter, veral vroeg in die wedstryd, opgeval het is hoe die tuisspan met amperse Lions-hantering gehardloop en mekaar met hulle uitgeë en rigtingverandering in die aflaai vertrou het.

Die Leeus, wat net enkele spelers in die beginspan gehad het wat nog nie Superrugby gespeel het nie, het wel met stukkies goeie spel vorendag gekom. Maar soos die mede-kaptein Mnisi na die wedstryd gesê het: “Ons het die bal nie lank genoeg gehad om doeltreffend aan te val nie.”

Presies. Die hanteerwerk was, soos die lynstane, miskien die Leeus se ondergang. Maar gee krediet waar dit toekom: die verdediging het aanvalswerk moeilik gemaak en tot foute gelei.

Puntemakers –

Griekwas (20) 30: Drieë: AJ Coertzen, Rudi van Rooyen, Stephan Kotzé. Doelskoppe: Clinton Swart 3. Strafdoele: Swart 2, André Swarts.

Goue Leeus (12) 24: Drieë: Akker van der Merwe, Howard Mnisi, Corné Fourie,  Cyle Brink. Doelskoppe: Jaco van der Walt, Marnitz Boshoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Leeus ondersteuners sal seker wonder of spelers wat in die Springbokgroep ingesluit is
maar nie die 23 kon haal nie en slegs toeskouers was nie eerder vir die Goue Leeus moes gespeel het nie.

Dit is duidelik dat hul teenwoordigheid deeglik gemis is en aan Griekwas ‘n welverdiende
oorwinnig besorg het,

Josua Keys ·

Die Leeus gaan weer die beker wen, dit is maar net sielkudige veranderinge wat die verskil was maar Johan en Swys sal dit regstel Kwagga is ook een van die dae terug en hy kan ook die ouens goed aanvoer, Griquas het n goeie wedstryd gehad en verdien om te wen maar die Leeus sal terug wees. Ek hoop die boodskap kom by Johan en Swys uit en dit Is dat julle vir Dilion Smit beslis meer speeltyd moet gee hy is baie beter as die tyd wat julle hom toestaan hy is n tweede Faf de klerk, Joac vd Walt moet asb op heelagter bly dit is waar hy uitgeblink het in die Super reeks nie op Losskakel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.