Griekwasliga: 2015-finaliste vat mekaar vas

Armand de Beer druk `n drie vir Kuruman teen Postmasburg. (Foto: Martha Simmons)

Armand de Beer druk `n drie vir Kuruman teen Postmasburg. (Foto: Martha Simmons)

Die twee spanne wat verlede jaar se spannende eindstryd in Griekwas se Superliga uitgespook het, het mekaar Saterdag ook deeglik vasgevat in vanjaar se reeks.

Die kampioen en Goue Bekerspan, Sishen, het Kimberley (voorheen Kimberley Polisie) op laasgenoemde se tuisveld 22-21 geklop.

In nog `n naelbytstryd, dié keer op Calvinia, het Springbok 24-23 teen Young Tigers gewen.

Voorts het Postmasburg 38-27 teen Kuruman op Kuruman gewen; United (Upington) het Nababeep 42-0 op Upington geklop; en Upington-Dorp het Young Lions (Nieuwoudtville) 72-15 ook op Upington oorrompel. Hartswater het Prieska op Griekwapark in Kimberley 53-7 verslaan.

Ná slegs twee rondes is Sishen en Upington die enigste onoorwonne spanne in die reeks.

♦ Riaan van Straten, die afrigter van Kuruman, sê die tuisspan het gesukkel om teen Postmasburg aan die gang te kom en hoewel hy by tye voorlangs oorheers het, kon hy eenvoudig agterlangs nie die nodige ritme vind nie.

“Die buitesenter, Emile Miller, was ons uitblinker. Hy het vyf uit ses skoppe deur die pale gejaag om Kuruman in die prentjie te hou. Dit was egter nie genoeg nie en Postmasburg het in die laaste paar minute ruimte aan die buitekant gevind om die wendrie te druk.

“Voorlangs het die agsteman, Hein Buys, `n woelige wedstryd gehad, met talle plettervatte en twee drieë van sy eie.

“Agterlangs het die blitsige Stokkies Venter met rotsvaste verdediging en opwindende teenaanvalle gewys waarom hy een van die liga se voorste heelagters is,” het Van Straten aan Pale Toe! gesê.

Buys (2) en Armand de Beer het Kuruman se drieë gedruk. Miller se drie doelskoppe en twee strafdoele het 12 punte opgelewer.

Ná `n moeilike seisoen in 2015 waarin die klub bykans ontbind het, spog Kuruman vanjaar met `n nuwe bestuur en afrigter.

Van Straten sê met die afleggings by die myne is baie spelers weg.

“Ons moes van voor af aan `n span bou. Hoewel die nederlaag op ons tuisveld bitter is, lyk die manne goed. Ons het `n goeie wegoorwinning teen De Aar behaal, en sien uit daarna om Woensdag 18:00 op sy tuisveld met Hartswater te gaan kragte meet.

upington united♦ Veronique Klaasen, `n woordvoerder van United, sê die span samespel en fiksheid het die grondslag vir sy sege oor Nababeep gelê.

“Dis losvoorspelers van United – die kaptein en flank, Rhozwin (Jorra) Scott, sy flankmaat Lionel (Peppes) Abrahams, en die agsteman Horace (Spies) Burden – het skitterend saamgespeel.

“Die binnesenter en onderkaptein John David (Jabba) Goeieman is op grond van sy ondeurdringbare verdediging as die speler van die wedstryd aangewys.”

Mervin (Gilla) Gilbert (vaskopstut), Ronwin (Poena) Isaacs (slot, twee), Jonathan (Super) van Schalkwyk (linkervleuel) en Joe-Lythen Willemse (regtervleuel, twee) het United se drieë gedruk.

Die losskakel, Wentzel Matthys, het `n strafdoel behaal en twee drieë verdoel (sewe punte) en die plaasvervanger Whirlvon van Rooi het `n drie verdoel en `n strafdoel behaal (vyf).

hartswater♦ Hartswater se linkervleuel, Leon Becker, het teen Prieska die oog gevang deur vier van die span se nege drieë te druk.

Stewart Bennie, die afrigter van Hartswater, skryf sy span se goeie oorwinning van 53-7 (rustyd 22-7) toe aan die wyse waarop die jonger en die ouer, meer ervare spelers gekombineer het, asook goeie kommunikasie en `n puik spangees.

“Om die spel te geniet is een van ons klub se vernaamste fokuspunte.”

Benewens Becker het Japie van Zyl (skrumskakel), Jan van der Linden (slot) en Jaco Ras (flank) vir die wenspan uitgeblink.

Gerhardt Badenhorst (heelagter) het twee drieë gedruk en drie verdoel vir `n persoonlike bydrae van 11.

Gerhard Holtzhauzen (buitesenter), Ras en Van der Linden het die ander drieë gedruk en Johan van Niekerk (losskakel) het een verdoel.

Opgesomde puntelere –

Oosterafdeling

Sishen 9, Kimberley 6, Postmasburg 6, Kuruman 4, De Aar 0, Hartswater 0.

Westerafdeling

Upington-Dorp 9, Young Tigers 6, United 5, Springbok 4, Nababeep 4, Young Lions 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.