Griekwasliga: daar haper nog heelwat met spanne

Saterdag se eerste naweekronde in Griekwas se Superliga het getoon dat daar só vroeg in die seisoen nog heelwat met van die topspanne haper.

Die bond se verdedigende kampioen en Goue Bekerspan, IMT Sishen, het Postmasburg op laasgenoemde se tuisveld met 34-17 geklop. Die rustydtelling was 17-10 in die wenspan se guns.

Tiaan Barnard, Sishen se spanbestuurder, laat weet die kampioen was baie sterk voor, maar daar was nog heelwat haakplekke in die agterlyn.

Kudu Pretorius was die uitblinker en hy het twee drieë gedruk.

Jandré du Plessis, Prince Mofekeng, Marthinus Erasmus en Louwrens (Bees) Strydom het die besoekers se ander drieë gedruk. Henco Olivier het twee verdoel.

Riaan van Straten, Sishen se hoofafrigter, sê hoewel daar baie is om aan te werk, is hy tevrede met die algehele vertoning.

“ʼn Belangrike twee weke van voorbereiding lê voor, voor Sishen teen Kimberley speel. Dis ʼn gedugte span vanjaar, en ons sal op ons beste teen hulle moet wees.”

Die twee spanne het die afgelope paar jaar gereeld kragte in die bond se klubeindstryd gemeet, en Sishen het elke keer naelsraap gewen.

♦ Vleissentraal Kimberley het Saterdag op Hartswater met 74-10 teen die besproeiïngsboere gewen.

Victor Hughes, die spanbestuurder van Kimberley, sê daar was net vyf lede van verlede jaar se gereelde opdrafspan in die span wat Saterdag teen Hartswater opgedraf het.

“Kimberley het ʼn klomp nuwe spelers wat opgang maak.

“Daar was heelwat beserings in die wedstryd, en die spelers het gesukkel om aan die gang te kom.”

Aan die positiewe kant, sê Hughes, het Kimberley se agsteman en kaptein, Rohan Victor, as skakel tussen voor- en agterspelers die bal baie goed versprei.

“Die agterlyn het baie goeie aanvalslyne gevorm en goed af gerond.”

Die nommer 7-flank, André Boshoff, wat in 2016 lank met ʼn besering gesukkel het, het sy terugkeer met ʼn puik vertoning gevier, en is as die speler van die wedstryd aangewys.

Juandré Lukas (twee), Glen Niewoudt (twee), André Kruger (twee), Nandus Hamann, Boshoff, Willie van Aswegen, Byron Booysen en Ruan Prins het die wenspan se drieë gedruk.

♦ Stewart Bennie, Hartswater se hoofafrigter, sê die klub se voorbereiding was nie na wense nie en sy benadering tot Superligawedstryde moet aandag geniet.

Hy sê Kimberley is ʼn baie goeie span, maar Hartswater het eenvoudig nie as eenheid saamgespeel nie.

“Ek meen dis normaal dat die span sukkel om aan die gang te kom ná 2016 se goeie seisoen. Die druk is meer, die teenstanders verbeter ook.

“Ons sal nog baie harder moet werk om met die ander Superligaspanne te kan meeding.

“Tog bly ek baie trots op my span se dissipline en veggees. Geen individu kan vir ons swak vertoning verkwalik word nie. Ons het bloot nie as ʼn span gespeel nie.”

Bennie loof die span vir sy sterk karakter.

“Ek glo vas dat ʼn span se sukkelseisoene aan die spelers en span se karakter bou, wat in die toekoms vir ons goud werd sal wees.”
Hy sê Johan van Niekerk, Hartswater se ervare losskakel, het deurentyd werk en duikslae gaan soek. Mynhardt Kritzinger, die agsteman, was oral op die veld; en die flank Obakeng (Bakkies) Pholoholo, wat as gevolg van beserings na drie verskillende posisies moes skuif, was in al drie sy sout werd.

Kritzinger het Hartswater se drie gedruk en Van Niekerk het dit verdoel. Gerhardt Badenhorst (heelagter) het met ʼn strafdoel geslaag.

Upington-Dorp se wenspan teen Upington United. (Foto: Verskaf)

 In die derbykragmeting op Upington, wat altyd ʼn groot groep ondersteuners lok, het Dorp met 27-22 teen United gewen.

Odette Kruger, Dorp se sekretaresse, skryf die sege aan die spelers se kameraadskap en hegte spangees toe.

“André (Gap) Wait van Dorp was die grootste uitblinker met sy stewige verdediging en doelgerigte aanval.

“Cobus van Niekerk het in die wenspan se agterlyn uitgeblink met die wyse waarin hy rigting aan die spel gegee het, en met sy goeie taktiese en stelskopwerk.”

Kruger sê ondanks twee geel kaarte was dit ʼn skoon stryd.

“Dit was ʼn naelbytstryd in die tweede helfte, waar die besoekers lank met 22-16 voorgeloop het.

“ʼn Skitterende drie deur Raafiqh Mogamat ná ʼn dryfbeweging, het die sege vir Dorp beklink.”

Upington-Dorp is een van die oudste rugbyklubs in die land, en vier vanjaar sy 109de bestaansjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.