Griekwasliga: Hartswater jaag groot kanonne

hartswaterHartswater jaag nou die groot kanonne in Griekwas se Superliga (Oos) ná sy goeie sege Saterdag oor De Aar.

Die klub het 47-8 gewen (rustyd 28-8) om Postmansburg op die punteleer verby te steek.

Slegs die kampioen en Goue Bekerspan, Sishen, en verlede jaar se naaswenner, Kimberley, is ná drie wedstryde nog voor die besproeiïngsboere. Hartswater en Kimberley het ewe veel ligapunte, maar laasgenoemde is 16 punte beter daaraan toe wat batige punteverskil betref.

Stewart Bennie, Hartswater se afrigter, skryf die span se sukses teen De Aar toe aan die individuele talent waaroor die span beskik.

“Ons was goed gefokus en reg vir die wedstryd.  De Aar het ook baie foute gemaak, wat ons uitgebuit het. Ons vaste fassette was puik en ons het in die skrum oorheers.”

Hy sê die voorspelers Mynardt Kritzinger (agsteman), Jan-Chris Els (flank) en Jan van der Linden (slot) het keer op keer die voordeellyn gebreek.

“Stefan Oosthuizen (losskakel) en Gerhardt Badenhorst (heelagter), wat albei as gevolg van beserings uit posisie moes speel, het sake op die verdediging vir die teenstand moeilik gemaak.”

Bennie sê `n mens is nooit ondankbaar vir `n sege nie, maar hy glo die span kan beter vaar.

“Die wedstryd het losgetorring en dit was moeilik om binne strukture te bly.

“Baie spelers kon nie speel nie en daarom wys die oorwinning daarop dat ons baie diepte in ons groep het.

“Gerhardt Holtzhauzen se besering in die wedstryd is vir ons `n baie groot terugslag.

“Ons staan op twee uit drie Superligaseges en as afrigter dink ek dit is baie goed as `n mens in ag neem hoe lank terug laas ons in die Superliga gespeel het. Dit is `n reeks waar dit `n paar jaar duur voordat `n span volwasse genoeg is om vir die titel mee te ding.”

Badenhorst, Pieter Goosen (vleuel), Aldro Haines (buitesenter), Oosthuizen, Kritzinger, Obakeng Pholaholo en Chris Nieuwoudt (plaasvervangers) het die wenspan se sewe drieë gedruk. Johan van Niekerk (binnesenter) het ses daarvan verdoel.

t In die ander Superligawedstryd Saterdag het Upington-Dorp, die voorloper in die Westelike Afdeling, en Young Tigers (Calvinia) op Die Eiland, Upington, 27-27 gelykop gespeel. Tigers was rustyd 14-3 voor.

Opgesomde punteleer –

Oostelike Afdeling

Sishen 14, Kimberley 10, Hartswater 10, Postmasburg 6, Kuruman 4, De Aar 0.

Westelike Afdeling

Upington-Dorp 11, Young Tigers 8, United (Upington) 5, Springbok 4, Nababeep 4, Young Lions (Carnarvon) 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.