Griekwasliga: kampioen skrum Kuruman kis

upingtonDie Griekwas se klubkampioen en Goue Bekerspan, Sishen, het Kuruman kis geskrum in die Superliga se laaste rondomtaliewedstryd van die seisoen.

Die span van Kathu het 36-10 gewen.

Hugo Schreuder, woordvoerder van Sishen, sê Kuruman het nie `n antwoord vir Sishen se sterk skrum gehad nie, wat etlike vaskopballe gewen het. Die wenspan het ook in die lynstane balle by Kuruman afgeneem.

Henco Olivier (losskakel), Gerhard Roux (flank) en Johan Spence (agsteman) het vir die kampioen uitgeblink.

Viljoen van der Linde, Olivier (twee), Ainsley Wilschut, Spence en Driaan vd Linde het die wenspan se drieë gedruk.

Upington-Dorp het Springbok 38-21 geklop. Hy was rustyd reeds 24-0 voor.

Adrian Eksteen, woordvoerder van Dorp, sê “elke liewe speler het sy kant gebring en uitsekende rugby gespeel”.

David Koen was die agterspeler van die wedstryd en Raffique Mogamat die voorspeler.

Dorp dring na die halfeindstryd deur en speel Saterdag 17:00 op Upington teen Kimberley – ná die Curriebekerwedstryd tussen Griekwas en die Sharks wat op die dorp plaasvind.

“Dit beloof `n dag vol baie goeie rugby te wees,” sê Eksteen.

springbokEugene de Waal, die spanbestuurder van Springbok, getuig dat dit `n baie harde wedstryd was.

“Die langnaweek het veroorsaak dat Springbok sy laaste Superligawedstryd op Die Eiland met slegs 19 spelers gaan aanpak het.”

De Waal sê Dorp het vinnig weggespring en vroeg die voortou geneem om rustyd 24-0 voor te loop.

“Met ons haker tien minute lank in die koelkas het dit in die eerste helfte moeilik gegaan.

“Lucian Cloete, die kaptein en buitesenter van Springbok, het rustyd sy span die Leviete voorgelees en heelwat beter spel en groter veggees het die besoekers drie drieë besorg.

“Ons het egter ook nog punte afgestaan.”

Die skakelpaar Rudolf du Toit en Dirkie von Weidts het veral vir Springbok uitgeblink.

Von Weidts het 11 punte met `n drie en drie doelskoppe aangeteken. Shane Links (flank) en Van Dyk Wepener (haker) het elk `n drie gedruk.

Young Tigers van Calvinia het Nababeep oortuigend 39-7 geklop en is op pad Kathu toe vir die halfeindstryd teen Sishen, nadat hy tweede in die Westelike Afdeling geëindig het.

Donnowin Ruiters van Young Tigers sê dis die heel eerste keer dat `n span van die Loganstreek die halfeindronde haal.

Young Tigers teen Nababeep.

Young Tigers teen Nababeep.

“Tigers kan homself ongelukkig ag, maar kan ook net homself verkwaklik dat hy nie boaan die punteleer geëindig het nie. Hy moes die wedstryd teen Springbok gewen het, maar dit is nou verby en gedane sake het geen keer nie.”

Ruiters sê die manne van die Tiere hetbeskik oor `n sterk karakter, veggees en `n bittereinderhouding.

Tigers het Saterdag ses drieë teenoor die een van Nababeep gedruk.

“Nababeep was letterlik teen die aarde en drie van sy spelers het in die hospitaal beland.”

Hy glo Tigers hoef nie vir Sishen, veral nie vir name, terug te staan nie, ongeag die span van Kathu se deelname aan die reeks om die Goue Beker.

“Dit is `n geleentheid wat Tigers met albei hande moet aangryp, en spelers kan nie net vir hulself naam maak nie, maar ook die Tiere en Logan se naam hoog hou.”

Mario van Rooyen (senter, twee), Frederick Kastoor (skrumskakel, twee), Heinrich Moses (flank) en Jeron Oncke (vleuel) het Tigers se drieë teen Nababeep gedruk. Van Rooyen, Johan Hendricks en Staton Kammies het elk `n strafdoel behaal.

kimberleyVictor Hughes, die spanbestuurder van DFA Kimberley, betreur die feit dat Kimberley die halfeindstryd betree sonder dat hy die afgelope twee weke gespeel het. De Aar het Saterdag punte gegee.

Jeremy Oliphant, woordvoerder van De Aar Titans, sê vervoerprobleme het sy span genoodsaak om punte te gee.

“Dit was `n moeilike besluit om te neem. Ons klub is nie bang vir die uitdagings nie, al het ons vanjaar `n honderdtal op die lyf geloop.

“Die Superliga was goeie ervaring vir die spelers en ons wil graag daarop voortbou. Daar lê harde werk vir ons voor, maar ons wil graag die manne in die platteland die geleentheid bied om rugby te speel.”

In die ander Superligawedstryd Saterdag het United van Upington vir Young Lions van Nieuwoudtville 76-6 opgefrommel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.