Griffons: eerste ronde moet al vrae beantwoord

griffons logoSaterdag se wedstryd tussen Klerksdorp en Welkom in die nuwe Griffons-Luiperdsliga behoort al `n beduidenis van `n antwoord op twee belangrike vrae te gee.

Dit behoort eerstens te toon in watter mate Welkom by sy spelerswinste en nuwe afrigter, Swannie Swanepoel, baat gevind het. Hoopstad het verlede jaar die Sandveldliga onder Swanepoel se breiershand gewen, voor hy hom Welkom toe begewe het.

In die tweede plek kan die wedstryd `n aanduiding te gee van hoe mededingend die Luiperdspanne Klerksdorp en Vaal Reefs in die reeks sal wees.

Laasgenoemde sou Saterdag teen Kroonstad speel, maar dié het vir `n afskuiwing gevra.

William van Kraayenburg, die voorsitter van Kroonstad, sê hoewel die klub steeds aan die Griffons-Luiperdsliga deelneem, sal sy eerste span teen die ander klubs se tweede spanne speel.

Hy sê Kroonstad het gevra om in die Sandveldliga te speel, maar dit sou dié liga met vyf weke verleng en dit sou met strooptyd in die kontrei inmeng, en nie deug waar die spelers grootliks uit die boergemeenskap kom nie.

♦ Reitz, die Oos-Vrystaatse kampioen se eerste wedstryd Saterdag in die streek se Noorderafdeling is teen Collegians op die Weermagveld op Bethlehem.

Oudskoliere II speel teen Leopards op die Bethlehemse Skouterrein; en Heilbron speel tuis teen Harrismith.

In die Suiderafdeling speel Collegians II teen Ficksburg (Weermagveld), Oudskoliere teen Marquard (Skouterrein) en Winburg tuis teen Senekal.

♦ Die Sandveldliga begin Woensdag met die kampioen, Hoopstad, wat in die Suiderafdeling teen Bultfontein te staan kom.

In die ander bepalings in dié afdeling speel Wesselsbron teen Theunissen, en Beatrix teen Thabong.

In die Noorderafdeling speel Parys teen Tikwe, Viljoenskroon teen Bothaville en Bronville teen Welkom III.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.