Griffons en Valke in eindstryd

 

Andre Pretorius (Foto: theguardian.com)

Andre Pretorius (Foto: theguardian.com)

Die Griffons en die Valke sal sake in die Eerste Liga van die Curriebekerreeks uitspook nadat hulle Vrydag die twee halfeindstryde teen onderskeidelik die SWD Arende in Welkom (45-43) en die Luiperds in Potchefstroom (31-24) gewen het.

Die klein punteverkil in albei wedstryde is ʼn goeie getuigskryf vir die krag-teen-krag beginsel wat ongelukkig, weens die vergroting van die liga na agt spanne van die vorige ses, nie in die Premierliga gehandhaaf is nie. Die OP Kings en, in ʼn minder mate, die Griekwas was nooit opgewasse in die liga nie en ook die Pumas het begin uitsak en hul laaste vier wedstryde verloor.

Maar terug na die halfeindstryde. Ironies genoeg is dit die eerste keer dat die twee wenners vanjaar teen die betrokke verloorspanne kon seëvier.

Die Griffons was rustyd 16-13 voor, en dit was toe al duidelik dat dit `n baie gelykop stryd sou wees.

Dit was boonop ook ʼn lekker wedstryd waarin daar nege drieë gedruk is – vyf deur die wenspan, en vier deur die SWD Arende. Vir die wenners het die veteraan Louis Strydom 20 punte aangeteken. Dit het twee skepdoele ingesluit. Elric van Vuuren het vir die Arende 23 skoppunte behaal.

Puntemakers:

Griffons: Drieë: Chris Ehlers, Norman Nelson 2, Tertius Maarman, Wynand Pienaar. Doelskoppe: Louis Strydom  4. Strafdoele: Louis Strydom 2. Skepdoele: Louis Strydom 2.
SWD Arende: Drieë: Ashwin Scott, Christo Du Plessis, Clinton Wagman 2. Doelskoppe: Elric van Vuuren 4. Strafdoele: Elric van Vuuren 5.

**  Die Luiperds, veral in Potchefstroom, was die ongetwyfelde gunstelinge, maar ongedwonge foute teen ʼn Valke-span wie se fokus en dissipline beter was, het die deurslag gegee.

Die rustydtelling was 19-elk, en op die ou end was dit `n enkele verdoelde drie wat die twee spanne geskei het.

Puntemakers: 
Luiperds: Drieë: Ryno Smith 2, Sylvian Mahuza 2. Doelskoppe: André Pretorius 2.
Valke: Drieë: Anrich Richter, Bruce Muller, Dirk Dippenaar 2, JP Mostert. Doelskoppe: Jaun Kotze 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.