Griffons het tuisveldvoordeel in gelykop eindstryd

Curriebeker-logoVoordat ons getrakteer gaan word op die Curriebekerreeks se twee Premierliga-halfeindrondes, gaan die Griffons en Valke dit eers Vrydagmiddag om 15:15 in Welkom om die Eersteligakroon uitspook.

Die Valke kon nog nooit enige vorm van Curriebekerglorie proe nie hoewel hulle as Oos-Transvaal in 1972 in die eindstryd teen Transvaal gespeel en 19-26 verloor het. Die Griffons kon die beker net in 2008 wen.

Wie hiérdie stryd Vrydag gaan wen, is bitter moeilik om te voorspel.

Hulle het mekaar twee keer in vanjaar se reeks gepak en om die beurt met nege punte gewen. Eers het die Griffons die Valke 29-20 in die Curriebeker se kwalifiseringsronde in Julie in Welkom geklop. Daarna het die Valke teruggeslaan met ’n 36-27-sege in Kempton Park in September.

Die Griffons is al heel seisoen taamlik konsekwent met vier seges in ses wedstryde. Hulle het slegs een nederlaag tuis gely toe hulle 27-42 teen die SWD Arende die knie moes buig.

Hulle het ’n week later soete wraak teen die Suid-Kapenaars in die een halfeindronde geneem deur hulle harte 45-43 te breek. Hulle speel weer tuis en dit tel uiteraard in hul guns.

Die Valke het daarenteen stadig begin, maar teen die einde hul spelpeil begin lig en vier uit hul laaste vyf wedstryde gewen. Een van hierdie seges was die 31-24-oorwinning oor die Luiperds (wat eerste op die puntelys geëindig het) in laas week se ander halfeindronde in Potchefstroom.

Die Oos-Randers was laas jaar die spreekwoordelike grap van die Eersteliga en het toe 31 drieë afgestaan en 25 gedruk vir ’n punteverskil van -30. Hulle kon slegs twee uit hul ses wedstryde wen en het sesde uit dié liga se sewe spanne geëindig.

Daar was dus ’n vinnige regrukpoging deur Rudy Joubert, die gewese Blou Bul-afrigter wat hulle ook in 2015-’16 sal brei.

Albei spanne hou van hardloop en dit kan gesien word in die hoeveelheid drieë wat hulle gedruk het. Die Noord-Vrystaters het 25 in hul laaste ses wedstryde gedruk – meer as vier per kragmeting – en die Valke 22. Albei halfeindrondes het groot tellings gehad en daar is geen oënskynlike rede hoekom hierdie spanne se benaderings nou sal verander nie. Ons kan dalk ’n lekker skouspel in hierdie eindstryd te wagte wees.

Daar is ’n paar spelers om dop te hou, veral die gesoute Griffons-losskakel Louis Strydom. Hy het ondermeer al vir Blou Bulle in `n eindstryd die Curriebeker help wen en vir die Goue Leeus in 2007 se Premierliga-eindstryd gespeel.

Strydom, wat in Welkom gebore is en daar skoolgegaan het, het ook al vir die Valke, Vrystaat Cheetahs, Cheetahs, Lions en die OP Kings gespeel. Vanjaar het hy met 46 die vierde meeste punte in vanjaar se Eersteliga aangeteken.

Strydom het verlede week die sege teen die Arende met ’n laat skepdoel beklink en sy koelkop-ervaring kan deurslaggewend in só ’n hoëdruk-wedstryd wees. Hy het verlede jaar 75 punte vir sy span aangeteken.

Die ander Griffons-gevaarman is Tertius Maarman, wat vanjaar die meeste drieë (5) in die Eersteliga gedruk het.

Die Griffons sal straks vandeesweek planne beraam het om die Valke se Juan Kotzé te keer om sy skopvoet teen hulle in te span. Hy is vanjaar die voorste puntemaker in die Eersteliga op 51, wat 12 doelskoppe en nege strafdoele insluit. Daarbenewens is Dirk Dippenaar in die uitgelese groep wat vier drieë vanjaar gedruk het – waarvan twee in die halfeindronde teen die Luiperds.

Die wenner van hierdie stryd sal met ’n stewige R1.054 miljoen wegstap en die verloorder met R527 000. Maar uitspeelwedstryde soos die Pumas s’n laas jaar teen Griekwas vir bevordering na die Premierliga is nie vir die wenner in 2014 beskore nie. Hulle sal, soos vanjaar, in 2015 teen die ander spanne in die Eersteliga asook Griekwas – wat vanjaar sewende in die Premierliga geëindig het –moet speel (en wen) om bevorder te word.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.