Griffons: Kroonstad neem wraak teen Vaal Reefs

KroonstadRugbyklubLogo(Internet)Kroonstad het Saterdag wraak geneem teen Vaal Reefs op laasgenoemde se tuisveld nadat die Luiperdsklub Kroonstad aan die begin van die seisoen op sý tuisveld geklop het.

Martin Venter, `n woordvoorder van Kroonstad, sê wat dit des te merkwaardiger maak, is dat die wenspan dit op skitterende wyse gedoen en Vaal Reefs II `n loesing van 38-0 in die Tweede Liga gegee het.

“Die besoekers het van meet af die pap dik aangemaak en was deurentyd in beheer van die wedstryd. Hulle het sommer van vroeg af die tuisspan kis geduik en min balbesit vir hom gelos. Die voorspelers het `n goeie platvorm gelê en die agterspelers kon met oorgenoeg balbesit baljaar.

“Aan die begin het die wedstryd heen en weer oor die veld gewissel voor Louis Steyn deur die tuisspan se agterlyn kon sny, swak verdediging uitgebuit en die eerste van sy vier drieë gaan druk. Hy het self die drie verdoel.

“Kort daarna het Kroonstad weer swak verdediging geklop en Steyn het sy tweede drie gedruk. Hy het ook hierdie een verdoel om die besoekers met 14-0 voor te laat loop.

“Skuins voor rustyd het die besoekers weer daarin geslaag om na `n goeie breekslag van Steyn `n derde keer agter die doellyn te gaan kuier. Hierdie drie is nie verdoel nie.”

Met `n telling van 19-0 was Kroonstad rustyd stewig in die saal.

Venter sê dit het glad nie gelyk of die tuisspan `n verweer het vir die manier waarop Kroonstad hom uitgedaag het nie.

“In die tweede helfte het Kroonstad vir Vaal Reefs in sy eie gebied vasgepen. Na goeie samespel tussen voor- en agterspelers het Flippie (Army) Louw die eerste van sy twee drieë gaan druk. Steyn het verdoel.

“Daarna het Steyn weer gaan afrond na `n skitterende breekslag regdeur die tuisspan se agterlyn se halfhartige verdediging, en sy vierde drie vir die dag gaan druk. Dit maak hom die voorste driedrukker vir die klub.

“Die tuisspan moes met bittermin balbesit tevrede wees en kon ook nie juis iets uitrig met die bietjie besit wat hy gekry het nie. Na nog `n aanval was dit weer Louw wat onder die pale gaan druk het. Een van die laaste twee drieë is verdoel.

“In daardie stadium was Kroonstad reeds 38-0 voor, toe die skeidsregter die wedstryd weens swak dissipline van Vaal Reefs sowat 15 minute vroeg gestaak het.”

Venter sê Willem Klemp en Flippie Louw het hul gebruiklike hoe spelpeil gehandhaaf, maar Stephan Oelofse het as die beste voorspeler uitgemunt. Agterlangs het Elwin Macpherson en TP Kleynhans goed vertoon, maar Louis Steyn het deeglik gewys waarom hy `n derde keer as beste agterspeler aangewys is.

Steyn se vier elk drieë en doelskoppe het hom 28 punte besorg en Louw se twee drieë het die ander tien bygedra.

bothavilleSandveldliga

Uit die Sandveld laat weet die streekbestuurder, Hennie Stander, Donderdag se wedstryde was kliphard en die uitslae weerspieël dit.

Verlede jaar se naaswenner, Bothaville, het sy tweede nederlaag gely toe Tikwe (Virginia) hom 23-19 geklop het; maar die kampioen, Hoopstad, kraai steeds koning en het Beatrix 20-17 geklop.

In die ander wedstryde het Theunissen 24-17 teen Bultfontein gewen; Welkom III het Viljoenskroon 10-0 geklop; Wesselsbron het punte by Thabong gekry; en die wedstryd tussen Parys en Bronville is tot 15 Junie uitgestel.

Donderdag se wedstryde –

Hoopstad teen Theunissen op Hoopstad; Wesselsbron teen Beatrix op Wesselsbron; Parys teen Bothaville op Parys; Tikwe teen Welkom III op Welkom; Viljoenskroon teen Bronville op Viljoenskroon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.