Griffons leer die Luiperds ʼn rugbyles

`n Oorstelpte Griffons-span juig na die wedstryd (Foto Raynique Meyer)

`n Oorstelpte Griffons-span juig na die wedstryd (Foto Raynique Meyer)

Die Griffons is die nuwe Curriebeker Eerste Liga-kampioen nadat hulle die Luiperds Vrydagmiddag op Olënpark in Potchefstroom met 44-25 ‘n rugbyles geleer het.

Reeds vanaf die eerste minuut het die Griffons die bal die werk laat doen, en die Potchefstromers onder druk gesit.

Voeg daarby die binnesenter van die Griffons, Japie Nel, wat met sy plettervate die tuisspan se ritme versteur het, en jy het die resep van die span van Welkom om die titel te verseker.

Die Griffons het die eerste drie van die wedstryd gedruk toe die sterlosskakel George Whitehead oorgeduik het. Praat van Whitehead, hy het die spel dikteer en die tuisspan telkens teruggejaag met lang lynskoppe.

Die Luiperds se eerste drie het gekom toe die buitesenter Juffrou Vermeulen oorgeduik het. Dit het die tuisspan steeds in die wedloop gehou om hulle titel suksesvol te verdedig.

Toe die gevaarlike Selvyn Davids kort voor rustyd gedruk het om die besoekers met die omdraaislag 20-11 te laat voorloop, moes selfs die mees geharde Luiperd-ondersteuner toegee dat die Noordwesters se spel in die eerste helfte nie vertroue vir `n oorwinning deur hulle span ingeboesem het nie.

Die Luiperds het in die tweede helfte met hernieude ywer op die veld gedraf, en binne drie minute het die heelagter Jaco Hayward ‘n perfekte agterlynbeweging in die hoek afgerond.

Die herlewing was egter van korte duur en die Griffons het daarna nooit gelyk of hulle gevaar loop om die wedstryd te verloor nie.

‘n Geel kaart in die negende minuut van die tweede helfte aan die Luiperd-kaptein Jeandré Rudolph het die tuisspan verder onder druk gesit. Whitehead het dit uitgebuit deur die strafskop deur die pale te jaag.

Met 20 minute in die tweede helfte verstreke het die buitesenter van die Griffons Tertius Kruger deurgedartel om te druk. Hierna het die Luiperds alles ingesit om ‘n wen te verseker, maar kon net nie die gety laat draai nie.

Tertius Krugers se tweede drie in die doodsnikke van die wedstryd was die finale spyker in die Luiperds se doodskis.

Whitehead is verdienstelik as speler van die wedstryd aangewys.

Puntemakers –

Luiperds 25 (11): Drieë: Juffrou Vermeulen, Jaco Hayward, Johan Deysel. Doelskoppe: Johan Deysel 2. Strafdoele: Johan Deysel 2
Griffons 44 (20): Drieë: George Whitehead, Selvyn Davids, Tertius Kruger 2, strafdrie. Doelskoppe: Whitehead 5. Strafdoele: Whitehead 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.