Griffons-liga: skerper mededinging wag vanjaar

griffons logoDie deelname van twee Luiperdsklubs aan die Griffons se Eerste Liga – en aktiewe spelerwerwing plaaslik – kan mededinging in dié reeks vanjaar aansienlik opskerp.

Daar is vroeër berig dat Vaal Reefs en Klerksdorp, wat verlede jaar aan die Valke se Peregrine-liga deelgeneem het, hul gewig vanjaar by die Griffons ingooi.

Eugéne van Wyk, die hoof- uitvoerende beampte van Griffons Rugby, sê dis nie net goeie afwisseling om twee nuwe spanne in die reeks in te bring nie, dit raak `n vlak beter as gewone klubrugby omdat daar twee spanne van `n ander bond betrokke is.

“Daar gaan op ander velde gespeel word en daar gaan skeidsregters van `n ander bond betrokke wees. Die spelers gaan ook bietjie  ‘reis’.”

♦ Rovers van Welkom, die Griffons-kampioen, het verlede jaar min teenstand in sy veldtog om die titel ervaar en groter diepte in die reeks kan slegs tot voordeel van die spel in die Noord-Vrystaat strek.

Butch Nieuwenhuyzen, Rovers se sekretaris, verwelkom eweneens die insluiting van die Luiperdsklubs.

“Ons glo hulle sal `n krag wees om mee rekening te hou.”

Hy sê daar is aanduidings dat van die ander Griffons-klubs hard besig is om spelers te werf – “selfs van ons spelers is genader met aanbiedinge van ‘voordele’” – en Rovers sien met afwagting uit om die krag van die plaaslike teenstand te meet.

Nieuwenhuyzen sê die klub het `n klompie goeie jong spelers bekom en die ervare kragte is steeds beskikbaar.

“Rovers het nog altyd sy klub op lojaliteit en gesinsbetrokkenheid gebou, met die gevolg dat min spelers die klub vir groener weivelde verlaat.

“Ons spelers staan steeds bedags in ander betrekkings en speel rugby vir die liefde van die spel en vir die tradisie en gees van die klub.

“Sy afrigtingspan dien al vyf jaar as `n eenheid en die bestuur het volle vertoue in hulle – wen of verloor.”

Die klub het drie weke gelede met fiksheidsoefeninge begin en Nieuwenhuyzen sê gemiddeld 30 spelers daag per oefening op.

“Rovers speel weer in die [nasionale] reeks om die Goue Beker en het dus iets ekstra om teen die einde van die seisoen na uit te sien.

“Ons is tevrede met die verloop van ons planne en voorbereiding.”

♦ Corrie Craven, die sekretaris van Griffons Oos-Vrystaat, laat weet die Oos-Vrystaters hou op Maandag 15 Februarie 2016 hul jaarvergadering. Sake rakende die nuwe seisoen se klubrugby sal dan afgehandel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.