Griffons-Oos: Oudskoliere stewiger, Reitz voor

bethlehem oudskoliereBethlehem-oudskoliere is ná Saterdag se halfpadmerk in die Griffons-Oosliga stewiger op die voorpunt in sy groep ingegrawe, en die kampioen, Reitz, loop nou voor in sý groep.

Oudskoliere het sy vernaamste teenstander, Senekal, 22-0 geklop; en Reitz het 43-0 met Heilbron afgereken.

In die ander wedstryde het Harrismith vir Oudskoliere II 43-17 geklop, en Marquard was 20-0 baas teen Ladybrand. QwaQwa Leopards moes weens die onrus op die universiteitskampus punte teen Collegians van Bethlehem gee.

♦ Hettie Nieuwenhuizen, die sekretaresse van Oudskoliere, sê die yskoue reënweer was ook in die Oos-Vrystaat aan die orde van die dag.

Eddie van Vollenhoven en Jacques Odendaal het die eerste span se drieë gedruk. Darius Ackerman het albei verdoel en `n strafdoel oorgesit.

Vir die tweede span het Kobus Gunter en Nico Nel gedruk. Johan van Es het `n doelskop deur die pale gesit.

harrismithembleem♦ Marius Coetzer, die voorsitter van Harrismith, sê die span se agterlyn het baie goeie werk gemaak van die bietjie bal wat hy teen Oudskoliere gekry het en die ondersteunende spel was iets spesiaals.

Hy sê Ernst du Rand, wat op flank gesak het, het goed verdedig en baie druk op die lynstane geplaas. Pieter Cockeran het goed met sy voorbeeld van heelagter af gelei.

Cockeran (twee), die buitesenter, Dricus Greeff (twee), die slot Thuso Lungwana, die plaasvervanger-senter Mikkie Coetzee en die plaasvervanger-heelagter Rikus van der Westhuizen het Harrismith se drieë gedruk. Greef het met vyf doelskoppe geslaag.

Coetzer sê dit was `n koue en nat veld Saterdag in Bethlehem, maar die rugby was vuurwarm.

“Harrismith het sommer vroeg reeds drie drieë gedruk en dit het gelyk of die telling dalk kan weghol, maar Oudskoliere het goed herstel en die bal in die hande gehou om met rustyd slegs 10-17 agter te wees.

“Albei spanne se hantering was maar power en Harrismith het baie strafskoppe by die afbreekpunte afgestaan. Dit was egter of die damwal gebreek het toe Harrismith die eerste drie ná rustyd gaan druk het, met Oudskoliere wat die meeste van die balbesit gehad het, en die besoekers kon nog vier goeie driee inryg voordat die tuisspan op die einde weer gaan druk het.”

Oscar Grobler (die hoof- uitvoerende beampte van Nouwens Carpets), Marius Coetzee (die voorsitter van Harrismith) en Lucy Nouwens (`n direkteur van Nouwens) met die bekendstelling van die nuwe hoofborgskap.

Oscar Grobler (die hoof- uitvoerende beampte van Nouwens Carpets), Marius Coetzee (die voorsitter van Harrismith) en Lucy Nouwens (`n direkteur van Nouwens) met die bekendstelling van die nuwe hoofborgskap.

Die spelers van die wedstryd was die agsteman, Ernst (The Bone Collector) du Rand en agterlangs was dit die dominee, Cockeran.

♦ Coetzer laat weet ook die tapytverskaffer Nouwens is voortaan die klub se amptelike hoofborg.

Veldgebrek eis klub

♦Intussen is bekend gemaak dat `n veldprobleem QwaQwa Leopards genoodsaak het om vanjaar uit die Noordgroep te onttrek.

Die universiteit word nou deur onrus geteister en van die Leopards se spelers is studente.

Boonop het die plaaslike munusipaliteit aangedui dat hy die huur van velde gaan verhoog, en is daar op die koop toe `n watertekort in QwaQwa en kan die velde nie onderhou word nie.

Onder dié moeilike omstandighede het Leopards besluit om vir vanjaar te onttrek. Hulle sal aanstaande jaar weer oorweeg of dit die moeite werd is om te speel.

Opgesomde telkaart –

Suidgroep

Oudskoliere 24, Senekal 19, Marquard 14, Ladybrand 10, Collegians II 4, Ficksburg 2.

Noordgroep

Reitz 26, Harrismith 24, Collegians 23, Heilbron 15, Oudskoliere II 12, Frankfort 8.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.