Griffons-Oos: twee nuwe kampioene ná 2 rillers

bethlehem oudskoliereDie Griffons se Oosstreek het Saterdag ná twee rillereindstryde twee nuwe ligakampioene gekroon.

Bethlehem-oudskoliere het die heersende kampioen, Reitz, onttroon deur hom 10-8 in die eindstryd om die Willie Crowtherbeker te klop; en Harrismith is die nuwe houer van die Stoney Steenkamptrofee nadat verlede jaar se wenner Heilbron uitgeval en hy (Harrismith) vir Marquard insgelyks 10-8 geklop het.

Henriëtte Nieuwenhuys, die sekretaresse van Oudskoliere, sê die kragmeting teen Reitz was tot op die einde `n naelbytstryd.

“Oudskoliere het tot diep in die tweede helfde nog geen punte aangeteken nie en Reitz was deurentyd vyf punte voor.

“Frikkie Nel en Darius Ackerman het elk `n drie vir Oudskoliere op die telbord geplaas.  Reitz het vir oulaas `n strafskop deur die pale gesit.

“Die gees tussen die ondersteuners en spelers was vanjaar baie goed.”

Nieuwenhuys sê die Bethlehemiete het `n jong span wat saam-saam nog in `n gedugte eenheid kan ontwikkel.

“Almal het vajaar saamgewerk om die beker huis toe te bring. Die ondersteuners moes soms ysige weer trotseer om die Geel Masjien te ondersteun.”

harrismithembleemStoney Steenkamptrofee

Marius Coetzee, Harrismith se voorsitter, sê Marquard was nog nooit `n lekker plek om te speel nie.

“Die veld is kliphard, met min gras, en die skare is iets wat jy nie elke dag beleef nie. Harrismith kon die afgelope vier seisoene nie een keer daar wen nie.

“Nadat Marquard Saterdag so te sê van die afskop af gaan druk het, was die druk met die eindstryd ook deurentyd op Harrismith.”

Coetzee sê Mikkie Coetzee het weliswaar in die eerste helfte `n strafdoel vir Harrismith aangeteken, maar die meeste kanse was Marquard s’n – “in `n stadium het Marquard soveel strafskoppe gekry dat die Harrismitters moedeloos begin raak het” – en die tuisspan het die grootste deel van die wedstryd 5-3 voorgeloop.

Marquard het laat in die tweede helfte `n strafdoel behaal om sy voorsprong tot 8-3 te vergroot.

Toe die tuisspan drie minute voor die einde `n strafskop pale toe verbrou, het Harrismith se vleuel Teboho Kilane `n aanval van stapel laat loop wat tot diep in Marquard se 22-gebied gevorder het.

Die besoekers het die bal herwin en uiteindelik het die loskopstut, Victor Mbatha, “wat seker nog nooit in sy lewe `n drie gedruk het nie” die laaste klompie meter oorgedryf.

Sammy Redelinghuys (flank) is as die voorspeler van die wedstryd aangewys en Mikkie Coetzee as die beste agterspeler.

Die plaasvervanger-skopper Eddie Clarke, het met sy terugkeer ná `n lang besering, vir die wenpunte gesorg.

Oefening by voertuigligte

Coetzee sê dit was `n lang seisoen en die Harrismitters moes baie koue en laat aande trotseer.

“Die klub sukkel met water en ligte, en die velde is seker in 2010 laas natgemaak aangesien daar fout met die wateraansluiting tussen die twee velde is.

“Uit die 36 ligte wat daar is, was ons gelukkig om een te kon hê wat brand – soms. Die kere dat hy óók nie gebrand het nie, moes ons by die voertuie se ligte oefen.”

Hy sê rugby op die platteland raak al hoe moeiliker met spelers wat nie meer wil speel nie en beserings wat lol.

“Ons het `n groep spelers wat ons ontwikkel en dit gaan in daardie opsig baie goed.”

Coetzee sê Harrismith het vyf spelers in die voorlopige groep vir die Oos-Vrystaatse amateurspan: Mbatha, Sifiso Ziqubu (stut), Redelinhuys, Kobus Grabe (albei flanke) en Jaco Coetzee (skrumskakel).

Die finale proewe is 28 Julie in Bethlehem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.