Griffons-Oos: vorige kampioen op boonste trap

ʼn Vorige kampioen van die Griffons se Oosstreek is ná twee naweekrondes op die boonste trap van die Noordgroep se punteleer.

Reitz, wat die Willie Crowtherbeker in 2015 gewen het, het sy topplek grootliks te danke aan sy wegholsege van 55-0 Saterdag oor Harrismith, die huidige houer van die Stoney Steenkamptrofee.

Hy het nege drieë gedruk.

Die streek se verdedigende kampioen, Bethlehem-oudskoliere, het ewe veel ligapunte (tien), maar Reitz het ʼn beter batige puntesaldo.

Oudskoliere het Frankfort op die Bethlehemse skouterrein met 43-39 getroef.

In die ander wedstryd in dié groep het Collegians II vir Leopards met 15-12 in die Charles Mopelistadion, Phuthaditjhaba, ondergesit.

Kwaai stryd

♦ Die Suidgroep stuur op ʼn kwaai stryd af met vier van die ses spanne wat dusver elk een kragmeting gewen het.

Collegians van Bethlehem is ná twee wedstryde onoorwonne boaan die punteleer.

Hy het Ficksburg op dié dorp met 38-5 geklop.

Marquard en Ladybrand het hul eerste wedstryde vanjaar gewen deur in wegwedstryde onderskeidelik met 18-7 en met 33-0 met Senekal en Lindley af te reken.

Opgesomde punteleer –

Noordgroep

Reitz 10, Oudskoliere 10, Frankfort 7, Collegians II 4, Leopards 1.

Suidgroep

Collegians I 9, Ladybrand 5, Marquard 4, Senekal 4, Lindley 4, Ficksburg 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.