Griffons trek (wéér) aan kortste ent

Die beker wat in die Curriebeker- Eerste Liga op die spel is. (Foto: Saru)

Die Griffons kan tereg as een van die weeskinders van Suid-Afrikaanse rugby beskou word.

ʼn Paar jaar gelede, toe Absa nog die borg van die Curriebekerreeks se Eerste Liga was, was daar prysgeld van R1 miljoen vir die wenner op die spel en het die naaswenner R600 000 ontvang.

Maar vanjaar ontvang die wenner van Vrydag (16:00)  se eindstryd tussen die Griffons en Luiperds nie ʼn duit nie, net ʼn beker, want Absa borg nie meer nie.

Verlede jaar was daar ook geen prysgeld op die spel nie, en het die Griffons op eie houtjie R720 000 vir die spelers ingesamel.

Die Griffons, as voorste span na die ligafase, moet ook aanstaande week in ʼn uitspeelwedstryd om Curriebekerstatus teen Griekwas uitspeel: ʼn wedstryd wat albei bonde onkant betrap, deurdat hulle glo nie daarvan bewus was nie.

As die Griffons wen, speel hulle aanstaande jaar in die Premierliga saam met die Sharks, Westelike Provinsie, Goue Leeus, Blou Bulle, Vrystaat-Cheetahs en Pumas in die Curriebeker-reeks. Dink net aan die rooi gesigte in die wandelgange as dit sou gebeur, want die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gaan glo binnekort bekend maak dat die Pumas en Griekwas in die Anglo-Walliese reeks sal meeding.

Noord-Vrystaat is in 1968 gestig met van die lelikste truie denkbaar: pers met geel krae.

Dis waar die bynaam Purple People Eaters vandaan gekom het.

Spanne het dit gehaat om in Welkom te speel: ʼn harde veld, wind en vurige teenstanders, soos Eric Herbert, Jan Breedt, Mike Ryan, André Gerber, Slang Roux, Pieter Sonnekus, Jurie Jerling en Japie Nel.

Daar is geen genade gegee of gevra nie, praat maar met oud-Natalse en Oos-Transvaalse spelers. Maar wanneer die son begin water trek het, het die manne tot laataand saamgekuier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack Russl ·

Volgens die opskrif klink dit of ABSA die borg teruggetrek het omdat hulle gedink het die Griffons gaan wen.

Trek die Luiperds nie ook aan die korste ent nie, hulle prysgeld is net soveel soos die Griffons. Maak nie saak wie wen nie, hulle kry niks, dis nie net die Griffons wat niks sal kry nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.