Griffonsklubs sal Luiperdspanne gou toets

Vaal-Reefs-logoDie twee klubs van die Luiperds wat vanjaar saam met die Griffons se voorste klubs in die nuwe Griffons-Luiperdsliga meeding, sal sommer met die afskop `n goeie aanduiding kry van wat op hulle wag.

Vaal Reefs (1 April) en Klerksdorp (2 April) se eerste teenstanders is die twee spanne wat verlede jaar in die Griffons se halfeindronde uitgeskakel is, onderskeidelik Kroonstad en Welkom.

Vaal Reefs het verlede jaar die halfeindstryd van die Valke se Peregrineliga gehaal, maar is eers twee dae voor die wedstryd laat weet vanweë `n fout op die punteleer speel hulle – en nie Klerksdorp nie. Hulle het gevolglik swak voorberei en met `n uitgedunde span gespeel en verloor.

♦ Cliff Holme, die voorsitter van Vaal Reefs, sê hulle sien daarna uit om teen nuwe teenstanders te speel.

“Ons het tevore nie veel teen die Griffonsklubs gespeel nie en `n verandering van spyse is altyd gesond.”

Holme sê Vaal Reefs is in `n heropboufase en die hoofafrigter die afgelope paar jaar, Philip van Rensburg, is vanweë werkverpligtinge nie weer beskikbaar nie. Hy het baie met die eerste span uitgerig en die klub is dankbaar daarvoor.

“Ons mik dié seisoen daarna om in die halfeindronde te speel en wil so ver moontlik daarvandaan vorder. In 2017 wil ons vir die reeks om die Goue Beker in aanmerking kom.

“Ek besef dit sal straf wees, maar het volle vertroue in die spelers en bestuur om ons doelwitte te haal,” het hy aan Pale Toe! gesê.

klerksdorp♦ Morné Vermeulen, die voorsitter van Klerksdorp wat vanjaar 127 jaar oud is, sê die klub het `n nuwe afrigtingspan en heelwat nuwe gesigte op die veld.

“Die span sal gewis in alle fasette van die spel mededingend wees om ons doelwit – silwerware in die toonkas – te bereik.”

Die oud-Luiperds- en Puk-speler Thabo Molete spits hom nou op afrigting by die klub toe en sal die voorspelers laat trompetter.

Fred van Niekerk, `n ou staatmaker by Klerksdorp, sal die agterspelers brei. Hy het die afgelope seisoene groot sukses met die tweede span behaal, wat eers die Luiperds se Neserliga en verlede seisoen die Valke se Merlinliga verower het.

Vermeulen berig dis vir albei `n nuwe uitdaging om Klerksdorp tot `n gerekende span te slyp.

Hy sê Klerksdorp skoei sy sukses op respek vir die spel, spelers, afrigters, ondersteuners, teenstanders en die waarde van sportmanskap.

Vermeulen sê Klerksdorp is dankbaar vir die geleentheid om in die Griffons-Luiperdsliga te speel, en sien na elke kragmeting uit.

♦ Eugéne van Wyk, die hoof- uitvoerende beampte van Griffons Rugby, sê die wenner van die eerste spanne sal `n prysgeld van R10 000 ontvang en die wenner van die tweede spanne sal R7 000 ryker wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.