Griffonsliga: Goue Bekerspan veg terug vir sege

rovers welkomDie Griffons se kampioen en Goue Bekerspan, Rovers van Welkom, moes Saterdag kwaai terugveg om sy derby teen Welkom in die Griffons-Luiperdsoorgrensliga te wen.

Die stad het oornag 50 mm reën gehad en benewens `n ysige wind het die reënbuie deur die dag voortgeduur.

Welkom was rustyd 7-3 voor, maar Rovers het 20-15 gewen.

Butch Nieuwenhuyzen, die wenspan se sekretaris, meen egter sy skrums en lynstane was nie op peil nie en het Welkom toegelaat om onnodige druk op hom te plaas.

“Ons het besit weggeskop waar dit beter sou werk om die bal in die hande te hou. Ons besluitneming op sleuteltye het soms teleurgestel.

“Wanneer ons planne geslaag het, het ons puik vertoon,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“`n Reuseduikslag deur ons binnesenter op hul haker het paniek gesaai, `n oorhaastige skop is afgestorm en deur ons buitesenter opgeraap, wat deurgenael het om die wendrie te druk.

“Welkom het voortdurend ons binnesenter dubbel gemerk, en toe ons `n `n tru-aangee na die vleuel gee het hy dwarsdeur Welkom se verdediging gekerf om kort voor die doellyn vasgevat te word. Hy daarin geslaag om na die binnesenter terug te speel, wat langs die regoppaal gedruk het,” berig Nieuwenhuyzen.

“Ons foute en verkeerde keuses het Welkom te veel speelruimte toegelaat.”

Shaun Nieuwenhuyzen en Curtis Kleinhans het Rovers se drieë gedruk. Tiaan van Wyk het albei verdoel en met twee strafdoele geslaag.

“Ons tweede span het 24-25 verloor in `n wedstryd wat hy ewentwel kon wen. Die span se durf en vasberandenhed was `n plesier om te aanskou. Hul koppe het nooit gehang nie en hulle het tot die einde gestry.”

Steven Breytenbach, Quinton Davis en Corné Cooper het Rovers II se drieë gedruk. Wessel Pretoruis het twee verdoel en met `n strafdoel geslaag.

welkom♦ Swannie Swanepoel, die hoofafrigter van Welkom, sê die wedstryd het sake baie wipplank gery met Rovers wat volgehoue druk op Welkom geplaas het, maar die verdediging van Welkom was eenvoudig te goed en het hy Rovers nie toegelaat om die doellyn oor te steek nie.

“Rovers was vroeg in die eerste helfte 3-0 voor en in die doodsnikke van die eerste helfte het Welkom met ‘n goeie beweging gaan druk om rustyd 7-3 voor te loop.

“Rovers het sy druk volgehou en met `n uitstekende agterlynbeweging vroeg in die tweede helfte weer die voortou geneem (10-7).

“Welkom het egter nie tou opgegooi nie, teruggeveg en gaan druk (10-12),” berig Swanepoel.

“Rovers en Welkom het albei met strafdoele geslaag en die telling was 15-13 in die guns van Welkom.”

“Met vyftien minute speeltyd oor het Welkom `n flater gegaan, waar die bal afgestorm is en Rovers onder die pale gaan druk en dit verdoel (20-15).”

Swanepoel sê Welkom het alles probeer, maar kon nie die verdediging van Rovers klop nie.

Christopher Khumalo (linkervleuel) het albei Welkom se drieë gedruk. Danie Schoonraad (losskakel) het `n drie verdoel en met `n strafskop geslaag.

Hy sê die klubs se tweede spanne het voorwaar `n pragvertoning gelewer.

KroonstadRugbyklubLogo(Internet)Tweede liga

♦ Martin Venter, `n woordvoerder van Kroonstad, laat weet die Noord-Vrystaters het Klerksdorp II 26-10 geklop. Die Kroonstadters was rustyd 5-3 voor.

Hy sê die wedstryd is op `n sopnat veld in Klerksdorp gespeel, wat die balhantering baie moeilik gemaak het.

“Hoewel dit in die tweede helfte steeds moeilik was, het Kroonstad hom in die laaste tien minute veral goed van sy taak gekwyt om die wedstryd met vier drieë teen een te beklink. Met twee van die drieë het Kroonstad `n man oor bewerkstellig.

“Willem Klemp (flank), wat `n barshou gespeel het, was die voorspeler van die wedstryd, en Louis Steyn (binnesenter) het ook sy staal getoon en is die tweede agtereenvolgende week as die agterspeler van die wedstryd gekroon.”

Steyn, Klemp, Flippie Louw en Henry Zeelie het Kroonstad se drieë gedruk en TP Kleynhans (regtervleuel) het drie verdoel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.