Griffonsliga: Kroonstad klop voorloper in reeks

KroonstadRugbyklubLogo(Internet)Kroonstad het Saterdag op sy tuisveld die voorloper in die Griffons-Luiperdsoorgrensreeks se Tweede Liga geklop.

Hy het 17-14 (rustyd 12-7) met Welkom II afgereken en is nou `n enkele punt na hom (Welkom) op die punteleer.

Martin Venter, `n woordvoerder van die klub, sê dit was `n uiters skouspelagtige wedstryd wat deur goeie sportmanskap gekenmerk is.

“Daar het lanklaas `n wedstryd op dié vlak met sulke goeie dissipline plaasgevind.

“Tog was die stryd kliphard en die verdediging aan albei kante uitstekend. Beide spanne moes hard vir hul punte werk.

“Die eerste punte is eers ná 20 minute in die eerste helfde deur Welkom aangeteken met `n drie wat verdoel is.”

Venter sê Kroonstad het egter gou teruggeslaan en kon danksy drieë van TP Kleynhans en Louis Steyn en `n doelskop deur laasgenoemde rustyd voorloop.

“In die tweede helfte was dit die besoekers wat eerste bloed geruik het met hul tweede drie wat verdoel is. Welkom was nou 14-12 voor.

“Die tuisspan het in die laaste 10 minute die knoop met die wendrie deur sy slot Rikus Stoltz deurgehak.”

Flippie (Army) Louw is as die beste voorspeler aangewys. Agterlangs het TP Kleynhans en Louis Steyn hul goeie spelpeil voorgesit. Quinten Visagie het egter veral die oog gevang en is as die beste agterspeler aangewys.”

Venter sê die Kroonstadters het die wedstryd aan hulle losskakel en senter, Johan Boucher, opgedra, wat verlede Sondag sodanig in `n motorfietsongeluk beseer is dat sy rugbyloopbaan beëindig is.

“Ons is dankbaar dat hy suksesvol geopereer is en dat hy reeds ontslaan is en tuis aansterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.