Griffonsliga: oorgrenssake raak interessant

welkomSake in die nuwe Griffons-Luiperdsoorgrensliga raak interressant en verlede jaar se eenrigtingverkeer blyk tot die verlede te behoort.

Die bond se kampioen, Rovers van Welkom, is tans derde ná Welkom en die Luiperdsklub Vaal Reefs op die punteleer, maar het `n wedstryd minder agter die blad.

Die twee Welkomse klubs is die enigste onoorwonne klubs dusver en dit lyk of bonuspunte later deurslaggewend kan raak.

In die jongste ronde wedstryde het Welkom 33-18 op die Hoërskool Wessel Maree se veld teen Odendaalsrus gewen; en Vaal Reefs het Hennenman 104-7 in die Oppenheimerstadion by Orkney afgeransel.

♦ Swannie Swanepoel, die hoofafrigter van Welkom, sê wetende dat Odendaalsrus vir Rovers tydens hul afgelope kragmeting opdraende gegee het, het Welkom dieselfde verwag.

“`n Begeesterde Odendaalsrus het uit die staanspoor gewys dat hy net een doel voor oë het, en dit is om Welkom te klop.

“Swak verdediging en `n teken van lusteloosheid aan Welkom se kant het aan Odendaalsrus `n vroeë voortou gegee.

“Welkom het egter teruggeveg en rustyd 16-8 voorgeloop danksy die akkurate skopskoen van die jong losskakel Danie Schoonraad,” berig Swanepoel.

“Die spel is in die tweede helfte ontwrig toe daar onbetwiste skrums moes plaasvind. Die spelpatroon is ook ontwrig met gereelde onderbrekings vanweë beserings en dit het die vloei van die wedstryd nadelig beïnvloed.”

Swanepoel sê Welkom het sy kans om `n bonuspunt te verseker in die doodsnikke van die wedstryd verbrou, toe die plaasvervanger Mandla Ndlungwana, wat net moes oorval vir `n drie, die bal uitgegee het en dit aangeslaan is.

“Welkom se vasbeslotenheid om te wen en sy sterk terugvegpoging het die grondslag vir die oorwinning gelê.”

Ernie Halberg was die voorspeler van die wedstryd, en Schoonraad die beste agterspeler. Laasgenoemde was die voorste puntemaker met drie doelskoppe en vier strafdoele wat hom 18 besorg het.

Die haker Timothy Nhlapo, die regtervleuel Ivan Kapara, en die plaasvervanger Christopher Khumalo het Welkom se drieë gedruk.

Soos gebruiklik het die tweede span van Welkom die voorbeeld gestel deur sy wedstryd met 76-3 te wen.

Swanepoel sê dit was `n pragvertoning waarin, `n klompie goeie drieë gedruk is.

Die linkervleuel Christopher Khumalo het drie drieë, en die regtervleuel Patrick Kampher en die losskakel, Mandla Ndlungwana, elk twee gedruk.

Damien Hulme (binnesenter), Lunga Thompson (agsteman), Pieter Boshoff (slot), Franco Mateus (haker) en Hein Bezuidenhout (plaasvervanger) het die res gedruk.

Damien Hulme het met vyf doelskoppe geslaag om sy totaal op 15 punte te staan te bring, en Ndlungwana met twee vir `n totaal van nege.

Welkom III het Viljoenskroon I Donderdag in die Sandveldliga 60-7 geklop.

Komende Donderdag speel Welkom III tuis teen Tikwe Tigers (Virginia) in die Sandveldliga.

Vaal-Reefs-logo♦ Cliff Holme, die voorsitter van Vaal Reefs, sê goeie ondersteunende spel tussen die voor- en agterspelers en `n agterlyn wat reguit gehardloop het, het die grondslag gelê vir die span se 16 drieë teen die ongelukkige Hennenman.

Die vleuel Danie von Wielligh, wat twee van die drieë gedruk het, was die groot uitblinker, sê Holme.

Die heelagter Stoan Dlova het vier drieë gedruk, en naas Von Wielligh het Luthwabo Stuurman (vleuel), Chris Blom (senter),  Mervin Mynhardt (flank) ook tweekunste behaal.

Ramon Purchase (skrumskakel), Charl de Jager (haker), Bongo Mavume (agsteman) en Liaan Nolte (senter) het die ander drieë gedruk.

Die losskakel Riandré Vermaak het nege verdoel (18 punte) en Blom, Nolte en die slot Renaldo Beukes een elk.

WelkomRover-logo♦ Butch Nieuwenhuyzen, die sekretaris van Rovers, laat weet die Griffonskampioen het Hennenman die vorige week 71-0 geklop. Hennenman se tweede span het punte gegee.

Nieuwenhuyzen sê Rovers het steeds te veel hanteerfoute begaan en in die vaste fasette gesukkel, maar sit was `n groot verbetering op die vorige week.

“By tye het die span sy potensiaal duidelik getoon, maar dit frustreer dat hy die volgende twee naweke opeenvolgende loslootjies het.

Die driedrukkers teen Hennenman was Shaun Nieuwenhuyzen (drie), LC van Tonder (drie), Wayne Ludick (twee), Tiaan van Wyk, Freddy Wepener en Curtis Kleynhans. Reynard Muller (ses) en Tiaan van Wyk (twee) het vir doelskoppe gesorg.

♦ In die Tweede Liga het Kroonstad I vir Rovers II 35-10 geklop.

Ruan Benadé, die afrigter van Kroonstad, sê die twee spanne het in die eerste helfte goed teen mekaar opgeweeg en dit was klipharde kragmeting met `n hewige stryd om balbesit. Kroonstad was rustyd 14-5 voor.

KroonstadRugbyklubLogo(Internet)Hy sê albei spanne was fiks en Kroonstad kon die skaal eers in die laaste tien minute swaai toe sy goeie hardloop- en skopwerk hom die oorhand laat kry het.

Robert Heyns (flank) het `n skitterende fisieke vertoning in die voorhoede gelewer en Jacques Roberts (losskakel) se puik taktiese skoppe het Kroonstad in Rovers se gebied gehou.

Johan Boucher het met `n drie, drie doelskoppe en `n strafdoel vir 14 van die wenspan se punte gesorg, en Roberts met `n drie en twee strafdoele vir 11. Samual Makoena het twee drieë gedruk.

Nieuwenhuyzen, die sekretaris van die verloorspan, sê Rovers II is eenvoudig deur `n beter span geklop.

Teboho Khampepe en Adriaan du Plessis het Rovers se drieë gedruk.

Ander uitslae –

Griffons-Luiperdsoorgrensliga

Tweede Liga

Welkom 76, Odendaalsrus 3; Kroonstad I 35, Welkom Rovers 10.

Opgesomde punteleer –

Griffons-Luiperdsoorgrensliga

Eerste Liga

Welkom 14, Vaal Reefs 10, Welkom Rovers 9, Klerksdorp 5, Odendaalsrus 0, Hennenman 0.

Tweede Liga

Welkom 15, Kroonstad I 11, Welkom Rovers 10, Klerksdorp 8, Vaal Reefs 4; Hennenman 0, Odendaalsrus 0.

Kyk by http://sportlogs.co.za/leopards/griffonsleopards-cross-over/ vir volledige punteleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.