Griffonsliga: Rovers moes dié keer uithaal

Rovers I - wen 20-18.

Rovers I – wen 20-18.

Anders as verlede jaar, moes Rovers van Welkom vanjaar uithaal om as die Griffons se ligakampioen gekroon te word.

Hy kon sy buurspan en aartsteenstander, Welkom, in Saterdag se eindstryd eers in bykomende tyd klop nadat die telling aan die einde van die 80 minute 13-13 was.

Rovers het op die ou end die tweekuns wat hy verlede jaar in die Griffons se liga behaal het, in die Griffons-Luiperds-oorgrensliga herhaal.

Dit was in albei gevalle naelskraap, maar sy eerste span het 20-18 gewen, en die tweede span 12-10, eweneens teen Welkom.

Met die toevoeging van die Luiperdsklubs Vaal Reefs en Klerksdorp was die mededinging vanjaar aansienlik strawwer as verlede jaar. Welkom was insgelyks baie sterker.

Butch Nieuwenhuyzen, Rovers se sekretaris, sê die klub se eerste span het die grootste deel van die eindstryd oorheers, maar swak keuses en onoordeelkundige skopwerk het punte in die eerste 25 minute beperk.

“Welkom was rustyd 8-6 voor en het die geleentheid gehad om die wedstryd in die gewone speeltyd te wen, maar sy losskakel het `n maklike doelskop verbrou.

“Dit sou egter onregverdig wees, omdat die bepaalde drie nooit toegeken moes wees nie.”

Nieuwenhuyzen sê Rovers het in bykomende tyd kalm gebly en uiteindelik 20-18 gewen.

Freddy Wepener en Jaco Pretorius het Rovers se drieë gedruk. Tiaan van Wyk het albei verdoel en met twee strafdoele geslaag.

“Al was al drie uitslae tussen die twee spanne vanjaar baie gelykop, vlei dit Welkom,” het Nieuwenhuyzen aan Pale Toe! gesê.

Rovers het die eerste rondomtaliestryd 20-15 gewen en die tweede was 20-20 gelykop.

Rovers II - wen 12-10.

Rovers II – wen 12-10.

Wat die tweede spanne betref, was Welkom oorweldigend die gunsteling nadat hy die liga dusver vanjaar oorheers het.

“Rovers se sterk karakter en kanniedood-benadering moet egter nooit onderskat word nie,” sê Nieuwenhuyzen.

“Welkom was op `n tydstip 10-5 voor, maar Rovers het aanhou aanval en die laaste 15 minute die spel oorheers.

“Dit het hom in staat gestel om uiteindelik `n drie te druk en die oorwinning met die doelskop te beklink.”

Robbie Ntlantsang en Jaco Jooste het die drieë gedruk en Corné Cooper het die laaste verdoel.

Nieuwenhuyzen het benadruk wat hy vroeër in `n onderhoud met Pale Toe! gesê het, dat al Rovers se spelers bedags werk.

“Geen speler ontvang wedstrydgeld of `n salaris van die klub nie. Rovers ontwikkel plaaslike spelers om in die hoogste liga in hul omgewing te speel, en hulle speel uit liefde vir die spel en die klub.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

butch nieuwenhuyzen ·

Welkom het nie die eerste game gewen nie, Rovers het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.