Griffonsliga: strawwe pylvakstryd lê voor

rovers welkomDie vaders van die Griffons-Luiperdsoorgrensliga kon nie juis vir beter vra nie as die strawwe stryd waarop die liga in die pylvak afstuur.

Met slegs twee weke se rondomtalierugby oor skei slegs vier punte die drie topspanne in die Eerste Liga, en drie die topdrie in die Tweede Liga.

Rovers van Welkom het Saterdag vir Klerksdorp 34-0 in `n wegwedstryd verslaan, en Vaal Reefs het Odendaalsrus op dié se tuisveld 27-15 geklop.

In die Tweede Liga het Kroonstad vir Hennenman 50-0 kafgedraf; Rovers II het 40-7 met Klerksdorp II klaargespeel; en Vaal Reefs II het Odendaalsrus II 51-27 geklop.

Butch Nieuwenhuyzen, die sekretaris van Rovers, sê die besoekers was rustyd al 20-0 voor op Klerksdorp.

“Dit was die eerste klompie minute duidelik dat Rovers drie weke lank nie gespeel het nie, maar sake het stadig maar seker beter verloop.

“Klerksdorp het die besoekers die eerste 20 minute lank in hul eie 22-gebied vasgepen, maar Rovers het sy staal met uitmuntende verdediging getoon.”

Nieuwenhuyzen sê Klerksdorp het wel kanse gehad om punte aan te teken, maar swak hanteerwerk en deeglike duikslae het hom daarvan weerhou om die doellyn oor te steek.

“Toe Rovers sy sake agtermekaar kry, het hy puik rugby gespeel.

“Die skrums en lynstane was `n dobbelspel met die beamptes wat na beide kante toe nie konsekwent opgetree het nie. Dit strek albei spanne tot eer dat hulle bloot die beslissings aanvaar het, en nie toegelaat het dat dit hul spel beïnvloed nie.”

Curtis Kleinhans (twee), Freddy Wepener, Jackson Silo en Tiaan van Wyk het Rovers se drieë gedruk. Van Wyk het drie doelskoppe en `n strafdoel bygevoeg om 14 punte te behaal.

Nieuwenhuyzen sê Rovers se tweede span het by tye sjampanjerugby gespeel en drieë van die boonste rak gedruk.

“Dit was `n plesier om hulle in aksie te sien.”

Anrich Pretorius (twee), Ngcobo Banele, Stephan du Plessis, Ngano Galeboe en Byron Ferreira het drieë gedruk en Corné Cooper het vyf daarvan verdoel.

Rovers speel Saterdag tuis teen sy aartsteenstander, Welkom.

Opgesomde punteleer –

Griffons-Luiperdsoorgrensliga

Eerste Liga

Vaal Reefs 28, Welkom 26, Rovers 24, Klerksdorp 7, Odendaalsrus 2.

Tweede Liga

Rovers II 35, Welkom II 32, Kroonstad I 32, Vaal Reefs II 27, Klerksdorp II 10, Odendaalsrus II 10, Hennenman 0.

Die volledige punteleer is beskikbaar by http://sportlogs.co.za/leopards/griffonsleopards-cross-over/.

(Klubbesture word genooi om bondige wedstrydverslae Maandae voor 11:00 vir publikasie aan Pale Toe! by [email protected] te stuur.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.