Griffonsliga: Vaal Reefs klou wat hy werd is

Vaal-Reefs-logoVaal Reefs moes Saterdag klou vir wat hy werd is om Rovers van Welkom sy eerste pak slae in twee en `n half jaar te gee.

Die span van die Luiperds het die Griffons-kampioen 24-22 in die Luiperds-Griffons-oorgrensliga geklop.

Clifford Holme, die voorsitter van Vaal Reefs (VR), se Rovers het met `n knal weggespring en hom die eerste tien miute in die span van Orkney se gebied tuisgemaak, en in dié tyd `n strafdoel behaal.

“VR het stadig maar seker teruggeveg en Danie von Wielligh (vleuel) het in die hoek oorgeduik, maar die lynregter het die spelers vir `n vorige oortreding teruggeroep.

“Von Wielligh het wel `n paar minute later gedruk en Riandré Vermaak (losskakel) het van die kantlyn af verdoel (7-3).”

Holme sê die wedstryd het opwindende rugby opgelewer en albei spanne het geleenthede gehad om punte aan te teken.

“VR het een van dié kanse benut toe Ramon Purchase (skrumskakel) in sy eie 22-m-gebied om die skrum gebreek en al die pad langs die kantlyn af genael het vir `n puik individuele drie. Vermaak het dit verdoel en VR was rustyd 14-3 voor.”

Hy sê soos te wagte kon wees het Rovers in die tweede helfte met `n magtige terugvegpoging gekom.

“Hulle het twee verdoelde drieë gedruk en 17-14 voorgeloop.

“Dit het VR nie veel gehelp toe een van sy voorspelers met `n geel kaart gestraf is nie.

“Die span het egter die druk moedig verwerk en toe verplaas sodat Von Wieligh sy tweede drie gedruk het toe Rovers naby sy doellyn fouteer het. Vermaak het dit verdoel en VR was 21-17 voor.”

Holme sê met 12 minute oor en ná verskeie fases het Vermaak met `n skepdoel geslaag om die telling 24-17 te maak.

“Rovers het onmiddellik teruggeslaan met `n drie in die hoek, wat hynie kon verdoel nie.”

VR moes die laaste tien minute verbete aan sy voorsprong klou.

Rovers se tweede span het van `n agterstand van 7-31 teruggeveg om 38-31 te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.