Griffonsliga: Vaal Reefs voor ná eerste ronde

Vaal-Reefs-logoDie Luiperdsklub Vaal Reefs loop voor in die nuwe Griffons-Luiperdsliga nadat die eerste ronde wedstryde afgehandel is.

Hy spog met `n beter batige punteverskil as Welkom, wat ewe veel ligapunte (vyf) het.

Rovers van Welkom, die huidige Griffonskampioen, is derde nadat hy nie Vrydag `n bonuspunt teen Odendaalsrus kon verdien nie.

Hy het Odendaalsrus 27-6 geklop en sy tweede span het 22-0 gewen.

Vaal Reefs het Saterdag 34-14 met Klerksdorp afgereken. Sy tweede span het 23-12 gewen.

♦ Butch Nieuwenhuyzen, Rovers se sekretaris, sê die span het nie baie goed gespeel nie en gesukkel om behoorlike bewegings aan die gang te kry.

“Daar was hier en daar `n teken van wat Rovers kan vermag, maar veels te min om tevrede te kan wees.

“Dit kan deels te wyte wees aan die feit dat ons `n maand en `n half lank nie gespeel het nie, maar daar was nie minder nie as 17 onderbrekings in die tweede helfte waar spelers van Odendaalsrus mediese behandeling moes ontvang. Almal het `n minuut en langer geduur.

rovers welkom“Van vloeiende spel was daar dus geen sprake nie, maar ons kan nie ontken dat Rovers nie goed gespeel het nie en dat daar werk wag.”

Reynhardt Muller het 17 van Rovers se punte met `n drie, drie doelskoppe en twee strafdoele aangeteken. Ivan de Klerk en Billy Diesel het die ander twee drieë gedruk.

Nieuwenhuyzen sê die spelers is Maandag en Dinsdag terdeë deur die afrigters onder hande geneem en die volgende toets is Vrydag teen Hennenman.

Riaan Coetzee, Marco Leech, Kevin van Zyl en Banele Nqcobo het die tweede span se drieë gedruk en Corné Cooper het een verdoel.

♦ Kroonstad I het Odendaalsrus II Dinsdagaand 45-19 geklop.

KroonstadRugbyklubLogo(Internet)Ruan Benadé, wat die span saam met William van Kraayenburg afrig, sê Kroonstad het die eerste helfte oorheers.

“Die span se fiksheid het baie verbeter en die hantering is gewis baie beter vanweë groter fokus en konsentrasie.

“In die tweede helfte het Odendaalsrus met mening teruggekom en die tweede helfte ‘gewen’.”

Benadé sê al twee spanne het `n sterk karakter getoon en die dissipline was uitstekend.

Kroonstad se beste voorspeler was die loskopstut, Francois Nel, wat die veld vol gespeel en `n drie gedruk het. TP Kleynhans, die linkervleuel, was die beste agterlangs. Hy het ook `n drie gedruk en nes Nel skitterend aangeval en goed verdedig, met `n goeie instelling teenoor die teenstanders.

Oos-Vrystaat

oos-vrystaat-rugby-logo♦ Die Oos-Vrystaatse kampioen, Reitz, het sy plek boaan die Noorderafdeling se punteleer bevestig deur Bethlehem-oudskoliere II Saterdag 45-24 op Reitz te klop. Hy het sewe drieë teen vier gedruk.

Bethlehem Collegians het Frankfort op dié se tuisveld 22-12 geklop; en Heilbron het die Leopards 50-5 in die Charles Mopelistadion in Phuthaditjhaba verslaan.

In die Suidergroep loop Oudskoliere verder voor nadat hy Ficksburg Saterdag op Ficksburg 24-5 getroef het.

Ladybrand het nege drieë gedruk om Collegians II 55-0 te klop.

Marquard en die Cougars (Lindley en Arlington) sal in die loop van die week teen mekaar speel.

Opgesomde puntelere –

Griffons-Luiperdsliga

Eerste spanne: Vaal Reefs 5, Welkom 5, Welkom Rovers 4, Odendaalsrus 0, Klerksdorp 0.

Tweede spanne: Welkom Rovers 5, Welkom 5, Klerksdorp 4, Vaal Reefs 4, Kroonstad I 0, Odendaalsrus 0.

(Hennenman was nog nie in aksie nie. Kroonstad teen Odendaalsrus nog nie verreken nie.)

Oos-Vrystaat

Suidergroep

Oudskoliere I 10, Senekal 5, Ladybrand 5, Collegians II 4, Ficksburg 2.

(Marquard en Cougars het nog nie gespeel nie.)

Noordergroep

Reitz 10, Oudskoliere II 6, Heilbron 5, Harrismith 5, Collegians I 4, Frankfort 0, Leopards 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.