Griffonsliga: Welkom hol weg met Klerksdorp

Welkom se span wat Klerksdorp verniel het.

Welkom se span wat Klerksdorp verniel het.

Die voorloper in die Griffons-Luiperds-oorgrensliga, Welkom, het in sy jongste wedstryd teen dié span `n wegholoorwinning oor Klerksdorp, een van die twee spanne uit Noordwes in die reeks, behaal.

Hy het die kragmeting op sy tuisveld 45-5 gewen.

Danie Swanepoel, die span se hoofafrigter, sê Welkom het uit die staanspoor met mening aangeval, en volgehoue druk en goeie skrumwerk het die eerste drie binne twee minute na die afskop bewerkstellig.

“Soliede strukture het die grondslag vir Welkom se oorwinning gelê. Puik aanvalswerk en uitmuntende verdediging was die wenresep.

“Die span se vasbeslotenheid om Klerksdorp van sy doellyn weg te hou, spreek duidelik daaruit dat die besoekers net een drie kon druk.”

Swanepoel sê die span se sukses lê daarin dat die spelers as `n eenheid en vir mekaar speel, in mekaar glo en mekaar vertrou.

Hy se Shaun Botha (voor) en Dwayne Burger (agter) was die beste spelers, maar daar was geen tekort aan uitblinkers nie.

“Albei baljagters, Mackie Pelser en Warrick Makinana, het hard gewerk om die los bal te wen. Die enjinkamer se voorste drie, Chester Whitehead, Gert Aucamp en Sive Ntwasa, het nie net voortreflik geskrum nie, maar gesorg dat die bal met kraglopies oor die voordeellyn gedra word. Hulle is goed bygestaan deur die twee slotte, Ernie Halberg en Werner Kotzé. Die ou man en leier van die span, Botha, het van voor af gelei en die span goed bymekaar gehou.

“Agter het die skakelpaar, Burger en Danie Schoonraad, gesorg dat die lyn vining weggestuur word en die senterpaar, Cheswin van Wyk en Xavier Isaacs, het dodelik verdedig. Die agterste driehoek, Neill Fullagar, Nazo Nkala en Ivan Kapara, moet komplimente kry vir die wyse waarop hulle mekaar aangevul het. Kapara is beloon met twee drieë.”

Burger (twee), Pelser (twee) en Aucamp het die ander drieë gedruk. Schoonraad het vyf verdoel.

Welkom se tweede span het `n pragvertoning gelewer en `n klompie goeie drieë gedruk om 47-3 te wen.

Michiel Human, Mandla Ndlungwana (twee), Lunga Thompson, Christo Boshoff, Timothy Nhlapo en Frans de Jongh het die drieë gedruk. Hein Bezuidenhout en Louis Strydom het elk drie verdoel.

rovers welkomRovers klop Odendaalsrus

Intussen het die Griffons-kampioen, Rovers van Welkom, vir Odendaalsrus 48-0 geklop (rustyd 21-0) sonder om die laaste vier drieë eers te probeer verdoel. Rovers II het 60-0 gewen nadat hy rustyd 31-0 voor was.

Butch Nieuwenhuyzen, Rovers se sekretaris, sê die span het die eerste 20-25 minute voel-voel begin asof hy te bang was om foute te begaan en in daardie stadium slegs 7-0 voorgeloop, maar gaandeweg sy selfvertroue herwin en die laaste 15 minute was dit die Rovers van ouds.

“In die tweede helfte het die planne reg uitgewerk en dit was `n plesier om die manne met oorgawe te sien speel.

“Die hartseer hiervan is dat die eerste span eers weer op 25 Junie speel vanweë Kroonstad en Hennenman se onttrekking aan die eerste liga

Curtis Kleinhans (twee), LC van Tonder (twee), Wimpy Botha, Freddy Wepener, Shaun Nieuwenhuyzen en Norman Nelson het Rovers se drieë gedruk. Tiaan van Wyk het vier verdoel.

Nieuwenhuyzen sê die tweede span het `n magtige spanpoging gelewer en was by tye op `n geheel ander vlak.

Quinton Davis (vier), Steven Breytenbach (twee), Johannes de Jager, Riaan Coetzee, Stephan du Plessis en Colin Odendaal het gaan druk. Wessel Pretorius (drie) en Igi Jansen van Rensburg (twee) het met doelskoppe geslaag.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.