Griffonsliga: Welkom neem vroeë voortou

Welkom op die aanval teen Vaal Reefs. (Foto: Lynette Helm)

Welkom op die aanval teen Vaal Reefs. (Foto: Lynette Helm)

Welkom is die vroeë voorloper in die Griffons-Luiperdsoorgrensliga ná sy sege oor Vaal Reefs Saterdag.

Die Noord-Vrystaters het die kragmeting 38-5 gewen en daarmee `n bonuspunt verseker.

Die huidige Griffons-kampioen en Goue Bekerspan, Welkom Rovers, is tweede.

Swannie Swanepoel, die hoofafrigter van Welkom, sê sy span het die pap uit die staanspoor dik aangemaak en `n mens kon sien hulle het net een doel voor oë – om te wen.

“Goeie aanvalswerk en uitmuntende verdediging het die grondslag vir die oorwinning gelê.

“Die span se vasbeslotenheid om Vaal Reefs van sy doellyn weg te hou, was duidelik sigbaar en die besoekers kon in die doodsnikke van die wedstryd eers hul enigste punte aanteken.”

Swanepoel sê Mackie Pelser en Michael Herbert jr het hard gewerk om die los bal te jag. Die enjinkamer se voorste drie, Gert Aucamp, Franco Mateus en Sive Ntwasa het nie net geskrum nie, maar met kraglopies gesorg dat die bal oor die voordeellyn gedra word.

“Agter het die skakelpaar Dwayne Burger en Danie Schoonraad die lyn vining weggestuur, met die senterpaar Cheswin van Wyk en Xavier Isaacs wat dodelik verdedig het.

“Die regtervleuel, Ivan Kapara, kan tevrede wees met sy drie drieë nadat hy goeie balbesit gekry het,” sê Swanepoel.

Werner Kotzé was die voorspeler van die wedstryd en Kapara die agterspeler.

Naas Kapara se driekuns het Van Wyk en Pelser (twee) gedruk. Schoonraad het twee verdoel, Isaacs een en Pelser sy eie.

Swanepoel sê hy is trots op sy span se vertoning en vertrou dat hulle altyd nederig sal wees.

“Ons het vir onsself `n doelwit gestel en vat sake stap vir stap om dit te bereik.”

Welkom se tweede span het die voorbeeld gestel deur sy wedstryd 69-10 te wen.

“Voorwaar `n pragvertoning waarin daar goeie drieë gedruk is,” sê Swanepoel.

Die heelagter Warren Williams het nie minder nie as vyf drieë gedruk. Mandla Ndlungwana (haker) en Lunga Thompson (agsteman) het elk twee gedruk en Leroux Odendaal (slot) die ander een. Hein Bezuidenhout (losskakel) het vyf verdoel en met `n strafdoel geslaag (13 punte). Mandla Ndlungwana (senter) het drie doelskoppe deur die pale gestuur (ses punte).

Op Donderdag het Welkom se derde span teen Bothaville 1 in die Saandveld liga verloor 47 -3.

Komende Donderdag speel Welkom III tuis teen Viljoenskroon in die Sandveldliga en Vrydag Welkom I en II teen Odendaalsrus op Odendaalsrus.

Opgesomde punteleer –

Griffons-Luiperdsoorgrensliga

Eerste Liga

Welkom 10, Welkom Rovers 9, Vaal Reefs 5, Klerksdorp 5, Odendaalsrus 0, Hennenman 0.

Tweede Liga

Welkom Rovers II 10, Welkom II 10, Klerksdorp 8, Kroonstad I 5, Vaal Reefs II 4, Hennenman II 0, Odendaalsrus II 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.