Griffonsliga: Welkom werk hard teen Klerksdorp

welkomWelkom moes Saterdag hard werk om die Luiperdsklub Klerksdorp in die nuwe Griffons-Luiperdsliga te klop.

Die Noord-Vrystaters het 33-22 gewen en die span se hoofafrigter, Swannie Swanepoel, voorspel Klerksdorp sal `n groot krag in die liga wees.

Hy sê die spanne het uit die staanspoor die pap dik aangemaak en dit was duidelik dat albei tot elke prys wou wen.

“Welkom se vasbeslotenheid om Klerksdorp van sy doellyn weg te hou en sy vurige verdediging het gewis die knoop vir die tuisspan deurgehak.”

Welkom het `n puik spanpoging aan die dag gelê, maar Franco Mateus het met sy kragspel van voor gelei, en Xavier Isaacs se dodelike verdediging was uitmuntend. Hulle is onderskydelik as die beste voor- en agterspeler van die wedstryd bekroon.

Swanepoel sê Welkom het by tye goeie struktuurrugby gespeel, “maar het op briljante wyse die teenstanders se foute in punte omskep”.

Die heelagter Neil Fulligar, linkervleuel Christopher Khumalo, plaasvervanger Danie Schoonraad, flank Mackie Pelser en stut Christo Boshoff het Welkom se drieë gedruk. Hein Bezuidenhout (losskakel) het `n drie verdoel en met `n strafdoel geslaag. Schoonraad het ook `n strafdoel behaal.

♦ Welkom II het Klerksdorp II 28-17 geklop met `n pragvertoning waarin goeie drieë gedruk is.

Die buitesenter Neville van der Merwe, binnesenter Mandla Ndlungwana (2) en flank Andile Makimana het die drieë gedruk en losskakel Danie Schoonraad het al vier verdoel.

♦ Vaal Reefs II het Kroonstad I 23-17 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.