Griffonsliga: Welkom wil vanjaar sake omkeer

welkomWelkom is daarop uit om sy aartsteenstander in die Griffons-rugbyunie (GRU) se Eerste Liga, Rovers vanjaar te troef.

Swannie Swanepoel, die klub se nuwe hoofafrigter, sê die klub het net een doel voor oë en dit is om die liga te wen. Dit is as `t ware sy “spesiale projek” vir die seisoen.

Hoopstad het verlede jaar onder sy afrigting die bond se Sandveldliga gewen.

Swanepoel sê Welkom gaan hom gewis nie laat afskrik deur die feit dat Rovers reeds vir die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker in aanmerking gekom het nie.

“Dit sal ons eenvoudig aanspoor om beter te vaar.”

Hoewel die klub `n paar spelers sedert verlede seisoen verloor het, is daar steeds `n stuk of 60 bereidwillige spelers en hy beskou die klub as baie gesond.

“Die voorbereiding is goed op dreef. Die manne is gefokus en die spangees is skitterend. Dit is lekker om as afrigter te weet dat jou hoofbrekens daarin lê om die bestes te kies uit die gehalte wat jy voor jou sien.”

Swanepoel onderskryf die standpunt dat die Luiperdsklubs Vaal Reefs en Klerksdorp se deelname aan die Griffons-liga dit `n groot hupstoot sal gee.

“ Ons verwelkom enige mededinging en ek besef dat ons goeie rugby teen hulle sal moet speel. Die vlak van rugby sal eenvoudig beter wees met hulle in die liga.

“Dit is `n bonus dat ons die Vaal sal oorsteek en op ander velde sal speel en met `n ander bond se beamptes te doen sal kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.