Griffonsliga: ysters het Welkom in rep en roer

rovers welkomWelkom se rugbygemeenskap is in rep en roer met die derby Saterdag tussen Rovers en Welkom in die Griffons-Luiperds-oorgrensliga wat die grootste belangstelling in jare uitlok.

Albei spanne is dusver onoorwonne, met Welkom wat lank laas so `n goeie kans gegun is om die kampioen en die Griffons se Goue Bekerspan, Rovers, te klop.

Hy het die afgelope Saterdag `n loslootjie geniet, en Rovers het Klerksdorp oortuigend 42-7 geklop.

♦ Butch Nieuwenhuyzen, Rovers se sekretaris, sê die wenspan was rustyd 28-0 voor.

“Rovers het uiters goed geskrum en het Klerksdorp in dié afdeling op die agtervoet gehad.

“Ons het `n klompie dom foute begaan en die deurentyd by die wedstrydplan gehou nie, maar die verbetering is met elke wedstryd duidelik al speel ons nog nie volgens ons potensiaal nie.

“Klerksdorp het ons `n stuk of 20-25 minute in ons eie gebied vasgepen. Dit was bemoedigend dat ons verdediginstruktuur gehou het, en hulle ongeag al die druk nie punte kon behaal nie,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Nieuwenhuyzen prys Klerksdorp vir die wyse waarop hy enduit bly veg het en uiteindelik wel `n drie gedruk het.

Freddy Wepener, Shaun Nieuwenhuyzen, Marcell Venter, Jaco Pretorius, Emanuel Mabomba and LC van Tonder het Rovers se drieë gedruk, en Tiaan van Wyk het al ses verdoel (12 punte).

Rovers se tweede span het 36-6 teen `n kloekmoedige Klerksdorp II gewen.

Tsidiso Mapuru, Stephan du Plessis, Petrus Human, Banele Ngcobo, Teboho Khampepe en Jaco Jooste het die wenspan se drieë gedruk. Corné Cooper het drie verdoel.

Vaal-Reefs-logo♦ Vaal Reefs het min moeite ervaar om Odendaalsrus 53-0 te looi.

Cliff Holme, die voorsitter van Vaal Reefs, skryf die goeie oorwinning toe aan puik samespel tussen voor- en agterspelers waartydens die bal die meeste van die werk verrig het.

“Ons skrums was uitmuntend, maar die lynstane was nie na wense nie en daar sal vandeesweek hard aan geskaaf word.”

Hy sê Danie von Wielligh, wat twee drieë gedruk het, was die beste agterspeler, en Yolisani Tsawu die uitblinker voorlangs.

Naas Von Wielligh het Stoan Dlova, Mike Steinberg, Ramon Purchase, Bongo Mavume, Charl de Jager en Frikkie van Rensburg vir Vaal Reefs gedruk. Riandré Vermaak het 11 punte met vier doelskoppe en `n skepdoel behaal. De Jager het benewens sy drie ook met `n doelskop geslaag.

Holme sê Vaal Reefs se tweede span het 42-10 gewen en `n wesentlike verbetering op sy vorige wedstryde getoon.

KroonstadRugbyklubLogo(Internet)Tweede Liga

♦ In die Tweede Liga het Kroonstad I gerieflik 35-14 teen Hennenman II gewen.

Kroonstad se afrigters, William van Kraayenberg en Ruan Benadé, sê in `n verklaring aan Pale Toe! dit was `n vreeslike harde wedstryd, met Hennenman soos verwag baie fisiek.

“Al twee spanne het aanvanklik swak hanteer, maar dit het in die tweede helfte verbeter.

“Opportunistiese spel deur Kroonstad en `n paar vinnig opeenvolgende drieë het Kroonstad op die wenpad geplaas,” sê hulle.

“Hennenman het nooit gaan lê nie en tot op die einde kliphard gespeel. Albei spanne se gees en dissipline was goed op en van die veld af.”

Van Kraayenberg en Benadé sonder Flippie Louw (flank) uit vir die groot inpak wat hy voorlangs gemaak het, en agter die senter Louie Steyn wat kliphard gespeel en reguit gehardloop het.

Steyn het `n drie en `n strafdoel (agt punte) behaal; Louw, Simon Dyantyi, Hendré van Zyl en Rikus Stoltz het elk `n drie gedruk; en Jaques Roberts het drie doelskoppe en twee strafdoele (12 punte) aangeteken.

Opgesomde punteleer –

Griffons-Luiperds-oorgrensreeks

Eerste Liga

Welkom 19, Vaal Reefs 15, Rovers 14, Klerksdorp 5, Odendaalsrus 0, Hennenman 0.

Tweede Liga

Welkom II 20, Kroonstad I 16, Welkom Rovers II 15, Vaal Reefs II 15, Klerksdorp II 8, Hennenman II 0, Odendaalsrus II 0.

Kyk volledige punteleer by http://sportlogs.co.za/leopards/griffonsleopards-cross-over/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Coenie ·

Sterkte aan elke welkom club speler vir sat ! Mag Mackie pelser n great game he !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.