Grizzlies wil stempel vroeg-vroeg afdruk

tuine-grozzlies-logoTuine se Grizzlies wil hul stempel vanjaar vroeg-vroeg reeds afdruk wanneer die klub die eerste keer aan die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Flya-toernooi deelneem, hoewel hy dit reeds die afgelope twee jaar aanbied.

Jaco Olivier, die klub se bestuurder, het aan Pale Toe! gesê die Grizzlies wil dié beker vanjaar “tuis hou”.

Op die duur is sy oogmerk om vanjaar vyf spanne in die eindstryde van die Bulle se klubligas te kry.

Tuine het reeds 2 Januarie begin oefen en beplan om vanjaar drie senior spanne, `n o.21-, `n o.20- en hopelik ook `n madala-span in die veld te stoot.

Olivier sê daar was Maandag als 33 manne op die oefenveld en die klub verwag heelwat meer spelers vir die 2017-seisoen.

Die Grizzlies speel hul eerste vriendskaplike wedstryde aan die begin van Februarie.

Die Flya-toernooi bring die topvier Carlton B- en topvier Carlton C-spanne bymekaar en strek oor twee Saterdae, 18 en 25 Februarie.

Olivier sê die reëls van die toernooi verander vanjaar ietwat om te voorsien dat die deelnemende klubs ook hul tweede spanne kan inskryf om die saamtrek groter en genotvoller te maak.

flya logo 2Hy sê die Grizzlies se derde span het verlede jaar in sy ligahalfeindstryd gespeel en die eerste span het net te laat op dreef gekom en vyfde geëindig.

“Dieselfde eerstespangroep het egter in die BBRU se sewestoernooi gespeel, weekliks die derde plek beklee, en as skildwenners uit die stryd getree. Die Grizzlies was een van die min Carlton-B-klubs wat aan die toernooi teen die A-klubs deelgeneem het.

“Die klub het verlede jaar drie sewesbekers gewen, en die spelers is nou sommer baie lus vir die 15-manseisoen.”

Olivier sê die Grizzlies is eweneens een van die min Carlton-B-klubs wat jaarliks `n o.20- en `n o.21-span in die Carlton-A-onderouderdomsligas inskryf.

“Die o.20-span het verlede jaar sy Assupol-afdeling op Loftus Versfeld teen die Universiteit van Johannesburg gewen. Die o.21s het net-net teen die Tukkies in `n eindstryd op die LC de Villiersterrein verloor.”

Olivier sê die Grizzlies beskik oor een van die grootste jeugklubs in Pretoria en probeer soveel seuns moontlik by senior klubrugby betrokke kry.

(Foto: Facebook)

(Foto: Facebook)

“Die klub beskik oor pragtige geriewe en knap dit jaarliks op om aan die voorpunt in `n mededingende mark te bly.”

Hy sê die Grizzlies hoop om met baie harde werk, die beste bestuur en die beste afrigters vanjaar vyf spanne in die eindstryde van die BBRU-ligas te kry.

Die klub oefen weekliks Maandae, Woensdae en Donderdae van 18:30 af en Olivier sê almal is welkom om deel van die klub te vorm.

Belangstellendes kan die nuwe voorsitter Johan Beukes by 082 247 0501, of Olivier by 073 179 5573 (Tuine-sportklub) bel.

Ten slotte sê Olivier die Grizzlies wil aan al die ander klubs wat in 2017 op alle klubvlakke gaan deelneem voorspoed toewens vir die seisoen, en spreek die hoop uit dat rugby sal seëvier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.